As dit voel soos liefde

Uittreksel: As dit voel soos liefde

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Marc en Natasha weet baie goed dat die passie tussen hulle net tot hartseer kan lei. Hy glo nie in die huwelik nie. Sy is pas geskei. As hul harte tog net die memo ook gekry het ...

Ek staan hopeloos te lank voor die vonkelwyn, besef Natasha toe sy weer effens uit die pad moet staan vir nog ’n persoon om verby te kom, maar George Michael sing uit volle bors saam met Wham! oor sy vorige Kersfees. Die woorde bly in haar kop vassteek en vir ’n oomblik is sy vasgevang in haar vorige Kersfees.
Dit is nou nie juis wonderlike herinneringe om in verstrengel te raak nie, maar sy kry dit om die dood nie reg om terug te kom na die hede met die woorde van die liedjie wat elke sekonde van die vorige jaar se Kersfees weer optower asof dit ’n film is wat voor haar afspeel nie. Soos toe sy en Carel, ná Oukersaand saam met sy familie op Assordante, ’n enorme geveg gehad het oor die uitspattige, duur geskenke wat hy vir almal – haar inkluis – gekoop het. Die duur diamantoorbelletjies wat hy vir haar gegee het, was die sneller. Nie net omdat hulle dit nie kon bekostig nie, maar omdat sy geweet het dat hy dit nie uit liefde gekoop het nie, maar uit suiwer skuldgevoel omdat hy toe weer aan die rondkuier was.

Hier waar sy nou in die drankwinkel staan en die wrewel in haar binneste ervaar, kan sy dit uiteindelik erken en dalk nog in ’n mate die woorde formuleer om vir hom in sy gesig te sê as hy haar sou vra. Dit is egter nie die emosie wat haar die meeste ontstel het verlede Kersfees nie.
Haar lip ontgeld dit onder die herinnering toe George Michael sing oor sy vriende se oë. Dié beeld laat haar presies onthou hoe haar vingers vroeër daardie aand aan die bewe gegaan het toe sy die uitdrukking in Marc Harvey se oë gesien het. Dit was terwyl hy haar staan en dophou soos sy die einste oorbelletjies probeer insit het. Sy kon nie onthou of iemand al ooit met soveel begeerte na haar gekyk het nie, of sy dit al ooit so intens in haar binneste voel eggo het nie. Dalk is dit juis daardie oomblik langs Lisa se enorme Kersboom wat die oorbelle die middelpunt van die geveg met haar man gemaak het.

Natasha ignoreer die fladdering rondom haar naeltjie wat die gedagte veroorsaak, net soos sy die blink van die steen aan haar ringvinger ignoreer toe sy haar hand uitsteek om een bottel van nader te bestudeer. Sy moet haar regruk, vinnig ook. Want al gaan haar amper eks nie vanaand daar wees nie en sy haar dus nie hoef te bekommer oor sy spandabelrigheid nie, moet sy saam met Marc Harvey Assordante toe ry sonder dat hy agterkom hoe sy voel en sy kan dit nie doen terwyl alles in haar soos jellie bewe as sy aan hom dink nie.
Sy weet mos van beter. Regtig. Dit is onnodig om bo en behalwe alles wat sy reeds hierdie Kersfees moet trotseer, meer te maak van ’n suiwer lyflike reaksie as wat dit is. Sy is nou maar net van die begin af aangetrokke tot die lang, donker Brit wat op ’n reënerige dag in Italië tot haar redding gekom het. Hy is aantreklik, intelligent en straal beheer uit, dit is van die aantreklikste eienskappe in enige man en het veroorsaak dat haar liggaam meer dopamien afskei as sy naby hom is. Niks meer nie. Sy is in elk geval nie haar pa of Carel wat hulle aan die neus laat rondlei deur hormone nie.
Natasha sit die bottel wat sy in haar hand gehad het terug op die rak, maar sy kan nie onthou wat die etiket gesê het nie. Dit maak seker nie saak nie. In vergelyking met haar swaer se vonkelwyn gaan alles sleg afsteek. Daarom pak sy twee van die bottels waarop Assordante se embleem pryk in die mandjie oor haar arm. Johann en Lisa gaan tien teen een hul oë rol, maar dit sal haar skoonpa goed doen en die vonkelwyn is al wat hulle haar toelaat om te bring. Boonop is vandag heel moontlik haar laaste Kersfees op Assordante en sy wil die heel beste daar aanbring. Sy kan dit hierdie jaar self bekostig en dit is dalk goed dat sy haar huwelik op dieselfde uitspattige manier beëindig as wat dit begin het.

Gelukkig begin Boney M se “Mary’s boy child” speel en sy kry stadigaan weer beheer oor haar emosies. Op die ingewing van die oomblik laai sy nog ’n bottel Charles de Villiers Brut in haar mandjie. Sy sal dit in Marc se kar los totdat hy haar vanaand weer by die huis aflaai en dan sal sy die egskeidingsdokumente teken met ’n glas vonkelwyn in die hand, die einste hand waaraan haar verloof- en trouring vandag vir oulaas blink.
Tot dan gaan sy moet maak asof dit nie die geval is nie. Sy het haarself belowe dat sy nie vandag gaan dink aan haar verbrokkelde huwelik of die uitwerking wat die nuus van haar en Carel se egskeiding dalk op haar skoonpa gaan hê nie. Sy wil vandag vir oulaas deel wees van die familie waarvoor sy lief geword het. Die plek wat vir haar ’n veilige hawe geword het toe haar eie familie uitmekaar geval het.
Sy kan môre wanneer sy haar hoofpyn dokter ’n post mortem op haar huwelik doen. Hierdie jaar se Kersfees gaan sy nie daarmee opfoeter nie. Sy gaan ook nie haar kop breek oor die feit dat die man saam met wie sy daar gaan aankom, met een kyk meer vure in haar binneste kan aansteek as wat haar ontroue eggenoot in vier jaar kon nie. By die idee dat daar in haar diepste binneste steeds ’n deel is wat voel Marc Harvey is die een wat die heelal eintlik vir haar bestem het, gaan sy beslis ook nie te lank stilstaan nie.

As dit net in die praktyk so maklik was soos in teorie, want as hy naby is, voel sy nie soos die emosielose ysvrou wat sy is nie en vlieg alle logika by die venster uit.
Die gedagte aan Marc Harvey maak dat sy die inkopiemandjie in haar hande stywer vashou. Sedert die heel eerste keer wat sy hom in Italië gesien het, het haar lyf ’n ding vir hom, al weet haar verstand hy is alles wat moontlik sleg kan wees vir haar. Hy het geword soos die wysie van ’n liedjie waarvan sy nie regtig hou nie, maar in haar kop bly vassteek. Goed, miskien nie ’n wysie waarvan sy nie hou nie, maar een wat sy nie kan vergeet nie. Een wat elke senuwee in haar liggaam oorsensitief laat. Die sexy gholfhemp en ontwerperschino wat hy vandag aanhet, help nou nie juis dat dit nie vandag die geval is nie.
Natasha byt weer haar lip en tel ingedagte hoeveelste sy in die ry is; die uwe wag vir haar in die motor en is seker al lekker ongeduldig. Of nie, kom die gedagte met uitroeptekens toe sy hom by die deur sien inkom en haar hart onmiddellik dubbel sy normale spoed begin klop.

Hy sien haar dadelik raak en stap stadig nader. Sonder ’n woord vat hy die mandjie by haar en glimlag: “Drie bottels vonkelwyn. Ek dog Lisa het gesê net twee?”
Natasha ignoreer die sexy kuiltjies langs sy vol lippe deur te fokus op die beterweterigheid in sy woorde. “Een is vir my. Vir later.”
“O, wat vier jy?”

Die woorde is verstrengel met sy sterk Britse aksent en die vuur rondom haar naeltjie vlam weer op. Die hemel weet, as sy geweet het wat veroorsaak hierdie reaksie op hom, sou sy dit dalk kon dokter. Of as sy soos haar eksman kon dink, het sy dalk die moed gehad om hom te soen soos sy van dag een af droom om te doen. As sy haar liggaam se begeerte na hom kan stilmaak, sal sy seker nie meer so aangetrokke tot hom wees nie. Dit is immers wat met Carel gebeur het. Die gedagte aan die man waarmee sy getrou het, laat haar fokus op die vraag. “Niks. Ek hou net van vonkelwyn en ek het niks om te drink by die huis nie.”
“Jy jok.”
“Hoekom sal ek?” Sy is versigtig om hom nie in sy oë te kyk nie. “My yskas is leeg en toevallig is vonkelwyn my gunstelingdrankie.”
“Is nie. Jy hou meer van koffie en jy weet dit is nie wat ek bedoel het nie.”
“Koffie is nie drank nie en nee, ek weet nie wat jy bedoel nie.”
“’n Mens koop nie vonkelwyn as jy nie iets het om te vier nie.”
“Ek doen dit.”
“Is dit so, Natasha? Hoekom kan jy my dan nie in die oë kyk nie?”
Want ek is bang jy lees te veel van wat ek tans voel in myne, antwoord sy amper eerlik. Dit moet skrikwekkend wees as hierdie man jou in die hof ondervra. Sy kan egter nie waag om te skrik nie, daarom skud sy net haar kop voor sy hom wel in die oë kyk en hoop dat die woorde reg uitkom. “Brendon gaan vandag vir Rebekka vra om met hom te trou, in die ou kelder.”
“Ek het gehoor die arme man wil nou ook die strop om sy nek sit.”
“Hemel, maar jy is sinies.”
“Nee, ek is net realisties. Trou is nie so romanties soos almal dit maak nie. Die huwelik nog minder.”
“Dit is seker so, maar dit bly ’n wonderlike instelling.”
“Is dit so?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie. “As dit die geval is, mevrou De Villiers, hoekom is jou man nie nou hier nie?”
Sy skud haar kop en omdat sy weet sy kan nie hieroor vir hom jok nie, bly sy eerder stil en sê saggies ’n dankgebed op toe hulle voor in die ry kom. Sy moes eintlik op haar eie na Lisa en Johann toe gery het. Dit sou alles net makliker gemaak het.

Hy maak vir haar die motordeur oop en Natasha wens hy wil nie behalwe sy aantreklikheid en intelligensie nog die perfekte heer ook wees nie. Sy weet tog dat hy, al is hy nie so erg soos Carel nie, eintlik net sy sjarme gebruik om vroue voor hom te laat swig. Maar dit hou nooit lank nie, want Marc Harvey sal hom nie tot een vrou bind nie.
Die wete laat die bloed in haar are effens afkoel. Sy wil nooit net ’n nommer op iemand se foon wees wat hy kan bel as hy die aand nie alleen wil wees nie, maak nie saak hoe aanloklik dit klink nie.


Marc probeer sy aandag op die pad vestig en nie op die blondine wat langs hom sit nie. Die manier waarop die bloed deur sy are bruis omdat Natasha nou ligpienk lipglans aansit, is heeltemal verregaande. Hemel, dit is nie asof dit ’n vreeslik verleidelike skakering is nie. Hy haal ’n slag diep asem voor hy van baan verwissel. Teen hierdie tyd behoort hy immuun te wees teen die aanslag van haar skoonheid op sy sintuie, hemel, hy behoort immuun te wees teen enige aanslag van enige vrou op hierdie vlak, maar om die een of ander rede wil sy liggaam net nie ophou reageer op hierdie vrou nie.
Dit is seker omdat hy haar nie kan kry nie. Almal weet dat die verbode vrug die lekkerste is en sy is op soveel vlakke verbode dat dit nie eers snaaks is nie. Dan is daar ook die absolute weerloosheid wat om haar hang, ten spyte van die kilheid in haar houding vandat hulle uit die drankwinkel gestap het. Dit herinner hom so baie aan die aand in Sisilië en dit is dalk hoekom hy vandag weer van voor af onvas op sy voete in haar geselskap voel. Teen dié tyd weet hy sy wys nie maklik hoe sy voel nie, maar hy kan nie anders as om te glo dat daar onder die lae en lae ys waaragter sy skuil, ’n warm passievolle vrou is nie.
Maar hy gaan nie die man wees wat daardie vrou leer ken nie.
Tot sy verligting stop hulle voor Johann en Lisa se huis en is daar nie kans om verder te dink aan die passie wat iemand anders dalk by Natasha de la Harpe gaan wek toe die gasheer en gasvrou onmiddellik op die groot stoep verskyn nie.


KOOP HIER | BUY HERE
Marc en Natasha weet baie goed dat die passie tussen hulle net tot hartseer kan lei. Hy glo nie in die huwelik nie. Sy is pas geskei. As hul harte tog net die memo ook gekry het ...

Die voordeel daarvan om die dag tussen ’n klomp ekstroverte deur te bring is dat jy nie hoef te praat nie, jy kan net luister. Hier in die kombuis het elkeen ’n plekkie, net soos in Lisa se uitgebreide familie. Sy geniet mevrou Khurmi, Walter Harvey se buurvrou in Londen en die inspirasie vir die meeste van Lisa se Indiese disse, se pittige sê goed. Ook die gesprekke met Betty, die uiters eksentrieke Brit wat iets tussen ’n persoonlike assistent en ’n beste vriendin vir Walter is. Dan is daar Dorothy, die De Villierse se jare lange huishoudster, se gekibbel met tannie Louise, haar skoonpa se vrou, oor hoeveel sous daar oor die pampoenkoekies moet kom. Hulle het nie net elkeen hul plek nie, hulle is almal besig om op hul eie manier die ete spesiaal te maak.

Vir ’n oomblik kyk sy af na die komkommer wat sy sny. Dit is natuurlik al waarmee hulle haar vertrou, daarom voel sy sleg dat die wiggies nie een dieselfde grootte is nie. Dit is dalk simbolies van die feit dat sy net nooit in die familie gepas het nie, net soos die lomp slaai nie by die deftige ete gaan pas nie.
Sy hou Lisa dop terwyl sy besig is om die sous te maak.
Miskien sou haar huwelik gehou het as sy kon kos maak soos Lisa de Villiers. As sy haar gevoelens kon wys met kos, het Carel dalk nie emosie gaan soek in die arms van ander vroue nie, maar sy kan nie. En sy het op geen manier haar emosies teenoor hom gewys nie. Sy het nie eers haar gevoelens oor Stefan se dood of haar ouers se egskeiding gedeel nie. Al wou sy met tye, kon sy net nie die regte woorde kry om te beskryf wat sy voel nie. Sy kon nie haar hart vir enigiemand oopmaak nie, nie eers vir haarself nie.
Dit is net nie wie sy is nie.
Natasha wil net weer haar gedagtes in die louwarm bekende begrawe toe haar oog die bottel Mona Lisa met die rooi strik om vang. ’n Hand vou weer om haar hart toe sy wonder hoe dit moet wees as iemand jou so liefhet dat hy ’n wyn na jou vernoem. Om deur al daardie moeite te gaan om iets te maak wat jou naam werd sal wees . . .
Gelukkig kom sit Tina langs haar en bring haar gedagtes terug na die hier en die nou. “As jy so sit en dink?”
Sy vat ’n sluk van haar vrugtesap voor sy dit waag om te antwoord. “Ek luister maar net.”
Tina sit een van die breër wiggies in haar mond. “So, hoe voel jy?”
Sy hoef nie te wonder waarna Tina verwys nie; in ’n oomblik van swakheid het sy teenoor haar gebieg, dus weet sy wat die ware toedrag van sake tussen haar en Carel is.
“Verlig,” antwoord sy eenvoudig en eerlik. Dit is seker beter om enkellopend te wees as getroud met iemand wat nie eers die moeite sal doen om vir jou ’n glas wyn te skink nie; om van een te maak, nie te praat nie.


Soos gewoonlik is Kersfees by Johann en Lisa se huis op Assordante ’n luidrugtige affêre. Hierdie jaar is dit intenser met meneer en mevrou Khurmi ook hier. Marc skud sy kop. Net Lisa de Villiers sal mense wat nie eers Kersfees vier nie kan oortuig om duisende kilometers ver te vlieg om die dag met haar te deel.
Natuurlik was daar ’n nuwe trekpleister hierdie jaar. ’n Donkerkopseuntjie wat skaars twee maande gelede sy opwagting in hierdie wêreld gemaak het.
Marc probeer sy blik op die babatjie hou, nie op die begeerlike vrou wat hom nou in haar arms het nie. Gaan hy nou die hele dag soos ’n simpel skoolseun reageer as hy vir haar kyk? Hel, dit is nie asof Natasha de la Harpe die mooiste vrou is wat hy al ooit gesien het nie – ook nie die interessantste nie.
Tog laat hy sy blik weer oor haar gly.
Sy het vandag ekstra moeite met haar voorkoms gedoen en die man in hom waardeer die sagte grimering en die geblomde rok, al sit die rok losser as wat dit moet. Dit help egter nie, want ten spyte daarvan dat sy gewig verloor het – wat nie nodig was nie – is elke ronding wat wel sigbaar is steeds begeerlik vir hom. Sy oë gaan rus ’n rukkie op haar lippe. Die lipglans is af, maar hy moet steeds veg teen die begeerte om aan haar lippe te proe.
Volgende jaar gaan hy hom nie weer ’n gat in sy kop laat praat nie, hy gaan Kersfees in Zanzibar deurbring, of op enige ander eksotiese plek waar hy nie die hele tyd moet veg teen die begeerte om Lisa se skoonsussie iewers heen te sleep en haar te soen tot hulle albei sterre sien nie.
Vandag moet hy ongelukkig nog daarteen stry, nie net omdat daar ’n trouring aan haar vinger blink nie. As die gerugte wat hy gehoor het waar is, gaan sy dit nie meer vir lank dra nie. Nee, hoekom hy nie op hierdie begeerte na haar gaan reageer nie, is omdat sy so te sê familie is.
Selfs al sou sy en Carel skei, sou Lisa haar steeds soos nou behandel. En dit moet so wees. Hier waar sy tussen sy mense is, lyk sy tuis. Hy het nog altyd geglo ’n mens mors nie op jou voorstoep nie, maak nie saak hoe begeerlik die vrou is saam met wie jy die gemors wil aanjaag nie.

Marc skud sy kop en vat ingedagte nog ’n slukkie van sy vonkelwyn. Hy wonder weer oor die bottel in sy kar. As sy bronne reg is, is meneer Carel de Villiers tans op ’n eksotiese eiland saam met ’n wulpse donkerkop nadat hy reeds vroeg in Desember die finale egskeidingsdokumente by sy vrou laat aflewer het.
Het sy dalk iemand wat vanaand vir haar wag met wie sy die bottel wil deel? Is dit ook hoekom sy vandag lyk soos sy lyk?
Die gedagte krap hom baie meer om as wat dit moet. Hy staan op om eerder met sy pa en meneer Khurmi te gaan gesels. Hoe langer hy in Natasha se geselskap is, hoe dieper is die begeerte om die beleefde glimlag van haar mond af te soen en die vrou agter die masker te leer ken.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS