Marita_Van_Der_Vyver_Al_Wat_Ek_Weet_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Al wat ek weet – Marita van der Vyver

1

DIS HULLE DINGE DAAI

Ek’s dazed and confused, ek’s naar en deurmekaar
dis al wat ek weet, dis swaar en dis waar

Nee. Dalk moet ek eerder sê dis waar en dis swaar? Of dis swaar omdat dit waar is?

KOOP HIER | BUY HERE

Jy’s kwaad vir die hele wêreld. En jou enigste wapen is ’n rugsak vol woorde.

Gabriel is vyftien jaar oud. Fifteen going on fifty, soos sy ma altyd geterg het. En ná haar dood weet hy skielik nie meer waar hy inpas nie. Die sielkundige wil hê hy moet oor sy gevoelens praat.

Maar hoe verduidelik jy vir haar dat dit die afgelope paar maande makliker geword het om met woede te cope as met snot en trane?

Hoe verduidelik jy dat jou kastige “gemengde bloed” jou anders as die res maak?  Hoe verduidelik jy dat dinge net nie meer dieselfde tussen jou pa is nadat hy in ’n sielkundige inrigting opgeneem is nie, terwyl jy moet probeer aangaan met jou lewe? Hoe verduidelik jy waarom jy al twee keer jou polse met ’n knipmes probeer oopkerf het?

Daarom verloor Gabriel homself in die wêreld van performance poetry, waar jy jou woede in woorde kan omsit en dit vir ’n gehoor uitbasuin.

In hierdie wonderwêreld van woorde leer hy om sy hand diep binne-in sy rugsak vol woorde te steek en die woorde soos gloeiende kole vir ’n gehoor te gooi.

Dan ontmoet hy vir Sasha, wat mooier is as Sneeuwitjie en boonop ’n ding of twee van poësie weet ...

’n Atleet moet sy spiere strek voor hy hardloop. ’n Pianis moet vingeroefeninge doen voor hy ’n konsert van Mozart aanpak. Het Mozart ooit klavierkonserte geskryf? Nevermind. Al wat ek weet, is ek kan nie sommer net voor ’n rekenaar gaan sit en ’n opstel oor myself begin skryf nie. Ek moet eers my brein aan die gang kry met iets makliker. Soos lekker lirieke vir ’n rap song. Die soort woorde wat heeldag in my kop rondspring.

Politics? Hulle sê die land is in ’n fix
hulle sê hou op om jou taal so te mix

Dis hulle dinge daai, niks met my uit te waai
dis HULLE dinge daai, NIKS met my uit te waai

Ek skaaf nog aan hierdie ene. My ouma dink ek doen huiswerk, maar daar’s nog net twee dae oor voor die wintervakansie en teen dié tyd is die onderwysers amper net so lui soos die kinders. Ek sal wel môre in die Afrikaansklas my wiskundehuiswerk inhaal. Of eerder, ek sal seker soos gewoonlik Robert s’n afskryf, met ’n paar aspris-foute by, anders sal ou Ahlers dadelik weet ek het weer gekroek.

“Aaa, Gabriel, ek sien jy’t oornag briljant geword in algebra,” sal hy op sy sarkastiese manier sê. “Wil jy nie die probleem hier op die bord vir die klas kom verduidelik nie?”

Robert gee nie om om my gat te red nie, hy doen dit gereeld, maar ek het geleer jy moet slim wees as jy wil skelm wees. Anders as die idiote wat alles google as ons ’n taak kry om te doen, en dan copy en paste hulle die inligting net so, sonder om dit behoorlik deur te lees. En dan kan hulle soos in glad nie verstaan waarom hulle swak punte kry nie.

KOOP HIER | BUY HERE
’n Eg Suid-Afrikaanse tienerverhaal oor ’n sukkelende pa-en-seun-verhouding en die reddende krag van woorde. Van der Vyver skryf oortuigend oor die wêreld van performance poetry en die hoofkarakter, Gabriel, se pogings om ná sy ma se dood sin te maak van die lewe.

A truly South African story about a struggling father-and-son relationship and the healing power of words. Van der Vyver writes convincingly about the world of performance poetry and Gabriel’s desperate attempts to make sense of life’s challenges after the death of his mom.

Robert McLachlan is een van daai “begaafde” ouens wat jy eintlik wil haat omdat als net te maklik is vir hom, maar dis nogal moeilik om nie van hom te hou nie. Hy’s nie net briljant nie – hy’s ’n boffin in wiskunde en wetenskap en skaak – maar hy’s boonop ’n goeie tennisspeler en hy hardloop langafstand en hy speel kitaar in ’n band. Hy’s wat die grootmense “goed gebalanseerd” noem, ’n all-rounder, gewild by almal. Selfs die meisies dink hy’s oulik, want hy het gladde blinkbruin hare en ’n lang kuif wat oor sy een oog hang en ’n puisielose vel met blosende rooi wange. Sy enigste probleem is dat hy omtrent ’n kop korter as die meeste ouens in ons klas is. Omdat hy so slim is, het hy ’n graad oorgeslaan en hy’s dus jonger as die res van ons. Maar selfs dít tel in sy guns, want die meisies bederf hom asof hy hulle dierbare jonger boetie is. Hy’s beslis nie ’n sad loner soos baie ander kinders wat op ’n jong ouderdom al as begaafd bestempel word nie.

Ek’s nie begaafd nie – nie sover ek weet nie – maar ek word al hoe meer as ’n sad loner beskou. Veral die laaste paar maande. Miskien het dit te make met die feit dat ek ’n enigste kind is en dat ek nie soos Robert ’n ouer suster en ’n jonger broer het om mee te baklei nie. Dat daar nog nooit ander kinders in die huis was wat my kon leer hoe om ’n kind te wees nie. Ek het van kleins af my eie kamer en my eie speelgoed en boeke en klere gehad.

Miskien het dit my selfsugtiger gemaak. Miskien net deurmekaarder wanneer ek tussen ander kinders is.

En dan is daar my “gemengde bloed” wat my ook anders as die res maak.

Sure, álmal in Suid-Afrika het gemengde bloed. My ma sê daar bestaan nie iets soos ’n suiwer ras nie. Nie in hierdie land nie. Maar dis nie by almal so duidelik soos by my nie. Ek het ’n pa wat duidelik wit is en ’n ma wat duidelik nie wit is nie.

Of nie wit wás nie.

Ek gebruik steeds gewoonlik die teenwoordige tyd as ek aan haar dink.

So, ek is wat jy ’n kleurling of ’n coloured sou noem. Wie de hel het daai woorde uitgedink? wonder ek altyd.

Maar anders as baie ander kleurlinge in die land, woon ek in ’n groot huis in ’n ordentlike buurt en ek gaan na ’n goeie skool toe.

Ek voel heeltemal alienated as ek op die Cape Flats beland, tussen die tikkoppe en die tattoos en die plakkate wat Son se opskrifte uitbasuin: Inwoners moerig oor crime. Bruid se koek stink. Lyk sien sy gat. Life on Mars, dis waaraan dit my altyd laat dink.

En in my ghrênd skool in die stad voel ek partykeer net so uit my plek. Soos ’n Marsman wat op die aarde beland het tussen kinders wat nie ’n benul het wat in die res van die land aangaan nie en nie ’n hel omgee nie. Solank hulle Saterdagaand kan dronk raak en selfies op social media kan plaas.

Jy sê ek lyk vir jou bruin ek
sê hei, no pain no gain

Jy sê ek is taamlik swart
ek sê nee, net so ’n kwart

Jy sê ek het te veel issues
ek sê nou ja, what else is news?

Jy sê is ek dan ’n Boer?
Ek sê: Ag, man, vlieg in jou …

Nee. Dis nie wat Dok Diana in gedagte gehad het toe sy my gevra het om oor my gevoelens te skryf nie. Sy soek nie slam poetry nie, sy wil iets hê wat amper soos ’n skoolopstel is. Hoe ek myself oor tien jaar sien. Daai soort van crap.

Luister, Dok D, ek kan nie eens in die spieël kyk na hoe ek nóú lyk nie. So give me a break, oukei?

“Skryf oor wat jy vóél,” sê sy aanmekaar vir my.

“Al wat ek voel, is die hel in.”

“Vir jou pa?”

“Vir hom ook, ja.”

“Vir wie nog?”

“Vir my ma oor sy doodgegaan het. Vir my pa oor dit sy skuld was. Vir myself omdat ek niks kon doen om dit te keer nie. Vir die universe wat sulke soort dinge toelaat om te gebeur. Ek’s net in die algemeen die hel in, oukei?”

“Is jy nie hartseer ook nie?”

Die oomblik as sy dít vra, so vooroor gebuig in haar stoel asof sy my persoonlike ruimte wil binnedring, met haar groot geelbruin uil-oë wat boor haar funky rooi brilletjie tot in my binneste probeer kyk, maak die knop in my keel dit vir my onmoontlik om verder te praat. Ek gaan nié voor haar huil nie. Ek het genoeg gehuil die laaste paar maande.

Maar sy’s slim, dié Dok D, sy weet presies waste knoppies om te druk om my te laat crack. So slim soos die houtjie van die galg. Ag nee! Dis nou weer ’n gesegde wat reguit uit my pa se mond hier op die rekenaarskerm voor my kom spring het.

Dis waarom ek nie oor my “gevoelens” wil skryf nie!

Al wat ek weet om te skryf, is slam of rap. Soms verbeel ek my selfs ek skryf poetry, maar nie die ingewikkelde goed wat ons op skool moet lees nie. Net gewone woorde, praatwoorde, selfs vloekwoorde. Woorde oor dinge wat vir my belangrik is. Die oomblik as ek “mooi” wil skryf, soos in ’n skoolopstel, dan word ek soos ’n tuinwerker wat nie kans kry om blomme te kweek nie omdat hy heeltyd onkruid moet uittrek. Al die Engelse woorde en “lelike woorde” wat ek aanmekaar moet delete. En as ek weer sien, skiet my pa se outydse gesegdes oral op. Wat seker ook ’n soort onkruid is.

Wat de hel is die houtjie van die galg? Hoe moet enigiemand van my ouderdom dit weet? Ons het dan nie eens meer die doodstraf in Suid-Afrika nie, so wáár moet ons nou leer van galge en houtjies?

So bang soos die duiwel vir ’n slypsteen. Dis nog een van my pa se gunstelinge wat lankal verby sy sellby date is. Niemand wat ek ken, het al ooit ’n slypsteen gesien nie. Wel, miskien my ouma Lenie, maar sy’s vrek oud.

Wat ons nodig het, het ek al vir my pa gesê, is nuwe gesegdes. As mense wil hê Afrikaans moet in die 21ste eeu oorleef, moet hulle ophou sukkel met galghoutjies en slypstene.

Sê eerder so bang soos ’n ma op die Cape Flats vir tik.

Of so bang soos ’n whitey wat in ’n donker straat gemug word.

Of so slim soos ’n president se spin doctor.

Die pen is magtiger as die swaard. Nog een wat my lam maak. Niemand skryf meer met penne nie en niemand behalwe ’n paar mal martial arts-ouens baklei nog met swaarde nie. Sê eerder iets soos tweets is magtiger as bomme. Dit klink mos minder soos eergister!

En hier neuk ek al weer anderpad, weg van myself en my gevoelens.

Hoewel my issues oor my moedertaal seker ook deel is van al my deurmekaar gevoelens.

Maar om jou vraag te antwoord, Dok: Natuurlik is ek hartseer. Hei, ek is so hartseer, ek is bang as ek daar in jou aaklige beige spreekkamer begin huil, gaan ek nooit weer ophou nie.

Maar deur die laaste heavy maande het ek agtergekom dis makliker om woede te hanteer as snot en trane. Dis meer aanvaarbaar om heeltyd die moer in te wees – dit kan selfs as cool beskou word – eerder as om ’n moffie te wees wat heeltyd huil.

Nie dat ek iets teen moffies het nie, oukei? Net om dinge duidelik te stel. Ek’s grootgemaak in ’n nie-rassistiese, nie-seksistiese, nie-homofobiese huis. Kyk net na my, ek’s ’n toonbeeld van ’n born-free, ek’s die nuwe Suid-Afrikaner wat in ’n demokratiese land gebore is, ek het ’n wit pa en ’n bruin ma en ’n bietjie swart bloed aan albei kante. Alhoewel dit baie meer weggesteek is aan my pa se kant, natuurlik.

En ek is heeltemal opgefok.

Maar ek’s nie ’n rassis of ’n vrouehater of ’n gaybasher nie. Daar’s min dinge in die lewe waarvan ek seker is, maar dít kan ek met sekerheid sê.

My naam is Gabriel, wat op die Engelse manier uitgespreek kan word, soos my ma dit doen. Gedoen het. Gheibriel. Of op Afrikaans, soos my pa dit sê, met daai “g” wat soos keelskraap klink en die “r” wat jou tong so laat tril. Gggabrriel. Die keuse is joune. Maak nie vir my saak nie. Selfs oor my naam is ek demokraties.

Of miskien moet ek sê: Selfs oor my naam is ek deurmekaar.

Ek is vyftien jaar oud. “Fifteen going on fifty,” soos my ma sou gesê het. “Thirteen going on thirty. Fourteen going on forty.” So het sy my elke jaar geterg. Want tot taamlik onlangs was ek nogal ’n nerd. Of sommer net doodgewoon ’n freak.

Dit het seker maar ook te doen met hoe ek lyk. Lank en maer. Té lank en té maer. Soos Giacometti se beeldhouwerke. Sê my pa, nie ek nie. Ek dink nie ek sal een van daai ou se werke herken as jy my daarmee oor die kop slaan nie. Of soos Stromae, volgens Helen. Stromae is daai Belgiese outjie wat dink hy’s die nuwe Jacques Brel. Maar dis natuurlik oor hy ook van “gemengde bloed” is dat Helen nou juis vir hóm moet uitpluk.

Jeez, ek háát daai uitdrukking. Gemengde bloed. Asof my pa se bloed blou is en my ma s’n geel en nou kry jy vir my met blou en geel bloed gemeng, wat seker beteken ek het groen bloed.

Bloed is bloed, donkerrooi met ’n reuk wat jy nooit rêrig kan vergeet nie. Ek behoort te weet. Ek het genoeg daarvan gesien en geruik die dag toe my ma dood is. En toe ek ’n paar maande later aspris per ongeluk my eie binnearm met ’n knipmes oopgesny het, het myne presies nes hare gelyk en geruik.

Dit het boggerol met velkleur te doen.

Ek’s in graad tien in ’n Afrikaanse skool in Kaapstad. My ma wou my na ’n Engelse privaatskool stuur, maar my pa het vasgeskop. Hy’s allesbehalwe ’n tipiese Boer, hy’s ’n professor in regte by ’n Engelse universiteit en hy luister heeldag klassieke musiek, maar hy’t hierdie ding oor sy Afrikaanse wortels en oor suiwer Afrikaans praat. Tussen al daai ryk kinders in ’n privaatskool, reken hy, sal ek nie leer cope met die realiteite van hierdie land nie.

Maar toe stort hy ineen en beland in ’n inrigting. Darem nie die soort scary malhuis wat jy in outydse flieks sien nie. Soos daai een waar Jack Nicholson se brein met skokterapie gebraai is tot hy in ’n zombie verander het. Toe ek dit jare gelede saam met my ma en pa op TV gekyk het, het ek nooit gedroom dat my pa ook eendag van sy kop af sou raak nie.

Maar hy’s nie in só ’n plek nie. Hy’s in ’n kliniek vir geestesgesondheid in die suidelike voorstede wat vir my meer soos ’n vyfsterhotel as enigiets anders klink.

Ek was nog nie self daar om dit te gaan uitcheck nie. Dit het niks met my uit te waai nie. Dis sy kop wat uitgehaak het, nie myne nie.

Dis erg genoeg dat ek gedwing word om een keer per week in Dok Diana se spreekkamer te gaan sit. Ná my tweede aspris-per-ongeluk-episode met die knipmes.

“Ek wou myself nie doodmaak nie,” het ek aanmekaar vir hulle gesê. “Ek wou net sien watse kleur my bloed is.”

Maar hulle wou my nie glo nie.

Ek’s dazed and confused, ek’s naar en deurmekaar
dis al wat ek weet, dis waar en dis swaar

Wag, voor ek weer begin tjank, laat ek liewer ophou krap aan my gevoelens, en my laptop gebruik waarvoor ek dit gewoonlik gebruik. Om games te speel. Ek is mal oor South Park – The Stick of Truth. Nie net omdat ek kan wegkom van die realiteit terwyl ek zombies en aliens jag nie, maar ook omdat dit my laat lag. En daar’s die laaste ruk nie baie dinge wat my nog laat lag nie.

Ouma Lenie sal in elk geval seker weer nou-nou aan my kamerdeur kom klop om te vra of ek nie “bietjie buite wil gaan speel” nie.

Serious. Sy freak my uit, sy’s soos ’n time traveler uit die verre verlede. Sy sukkel om ’n selfoon baas te raak en sy het nog nooit in haar lewe die internet gebruik nie. Return to the Future. Nog ’n fliek wat ek lank gelede saam met my ma en pa gekyk het. My ouma kyk nie eintlik flieks nie, net al die gemors wat heeldag op TV wys. Soapies, natuurprogramme, comedy series, die nuus – noem maar op, sy kyk dit. Met so ’n verwonderde uitdrukking op haar bruin plooigesiggie soos ’n alien wat die lewe op aarde probeer verstaan.

Sy’s my ma se ma, en my pa dink sy’t Khoisan voorvaders omdat sy so klein en plooierig is. Ek wonder partykeer of sy nie half-Hobbit is nie. As ek langs haar staan, laat sy my voel soos daai ou wat deur die klein mensies vasgebind is. Gulliver. Dit was een van die stories wat ek saam met my ma gelees het.

My ma was mal oor stories. Haar lekkerste werk was om kinderboeke te illustreer. Sy het altyd gesê eendag wil sy nog ’n storie illustreer wat ék geskryf het. Of selfs net ’n rympie. Sy was jare lank die enigste mens wat geweet het ek skryf rympies.

Dit was nie die soort ding waaroor ek by Robert of enige van my ander pelle kon brag nie. Tot ek rap ontdek het en agtergekom het daar’s cool dudes daar buite wat van rympies aan die lewe bly.

Maar my ouma wil aanmekaar weet of ek nie bietjie buite wil gaan speel nie. Asof ek tien jaar oud is en in Sprokiesland leef, in ’n ander era toe kinders almal saam op straat Wolf, Wolf, hoe laat is dit? gespeel het.

My pa sê toe hy ’n kind was, het hy en sy broers kleilat gespeel en kaalgat in die plaasdam geswem. Imagine. My ernstige pa as ’n kaalgat laaitie. En as hy by sy maats op die dorp gekuier het, het hulle bendes gevorm en geheime vergaderings gehou en op fietse rondgejaag om skelms te soek.

“Deesdae,” verduidelik ek vir my pa, “hoef jy nie te soek vir skelms nie. Hulle is oral om ons. En die enigste bendes waarvan ek weet, is op die Cape Flats. Hulle deal in drugs en hulle skiet mekaar dood en ek dink nie dis wat Pa in gedagte het vir my nie.”

Oukei, genoeg vir eers. South Park, here I come.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS