Fanie_Viljoen_Profiel

Skrywersprofiel: Fanie Viljoen

Fanie Viljoen is in Welkom gebore, waar hy ook skoolgegaan het. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Goudveld. Die skilder- en skryfgogga het Viljoen reeds op skool gebyt. Van sy skilderye het ‘n tuiste gevind in Amerika, Australië, Kanada en Brittanje. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gewilde kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Hy skryf veral kinder- en jeugboeke omdat daar nie grense is aan kinders se verbeelding nie. Fanie woon tans in Bloemfontein. Hy skryf voltyds.

Die skrywerslewe

KOOP HIER | BUY HERE
Is jy dapper genoeg om hierdie boek oop te maak? Wat gebeur as jy te lank in Dina se donker oë staar? Wat is fout met juffrou Kupido – en watter nare geheim steek sy in haar pousekosblik weg? Woon daar werklik ’n mensvreter in die moeras soos party mense sê? Wat sal gebeur as ’n vampier en ’n zombie een nag kennis maak? Dis groot. Dis gruwelik. Dit gaan jou hoendervleis gee. Dis die lekkerste versameling grilstories wat jy nog ooit gelees het! Hierdie reuse-rilboek deur die gewilde Fanie Viljoen bevat 31 spokerige, grillerige en grieselige stories wat jou ure lank sal laat ril en gril – en laat smeek vir nog!

Fanie meen die skryfgogga het hom op skool beetgekry en dat dit sy Afrikaans-onderwysers was wat ’n liefde vir stories by hom gekweek het. Later was dit veral sy ontmoeting met Jaco Jacobs wat Fanie die deurslag gegee het om sy eerste boek te skryf. Omdat die skryflewe egter bloedsweet en trane vereis, moes hy al vreemde werke doen. Een hiervan was om ’n kassier in ’n bank te wees. Ná ’n paar maande se werk by die bank het Fanie diensplig gedoen.

Benewens sy voltydse skryfwerk sal Fanie, wanneer hy ’n ruskans het, lees, musiek luister (veral musiek wat buite die populêre musiekgenre val), oefen in die gim en rondhang in koffiewinkels. In koffiewinkels tref inspirasie gereeld en dit is hier waar hy ook sit en skryf. Fanie het al talle titels geskryf – en hy gaan nie sommer vinnig ophou skryf nie. Alhoewel hy ‘n voorliefde vir kinder- en jeugboeke het, is daar ’n aantal volwasse titels wat Viljoen ook geskryf het. ‘n Volledige lys van al Fanie se titels is hier te kry: www.fanieviljoen.co.za

KOOP HIER | BUY HERE
Alles gaan oukei wees, het Decker gesê.
Hy was verkeerd.

’n Wilde partytjie. 
’n Gesteelde kar.
’n Jaagtog wat in chaos eindig. 
’n Sak vol geld. 

Trent se ouers is die naweek weg en los hom alleen by die huis. Ná ’n rowwe partytjienag saam met sy vriende wat met ’n wilde jaagtog en ’n motorongeluk eindig, word Trent met ’n moeilike besluit gekonfronteer: Wat moet hy doen met die geld wat hy op die ongelukstoneel gekry het? 
En kan hy regtig sy vriende vertrou?

In hierdie aweregse, doller-as-kop-af spanningsverhaal loop dinge in regte Tarantino-styl skeef en die leser moet behoorlik aan sy sitplek vasklou om by te bly met al die naelbyt-aksie. Hierdie uitdagende, vermaaklike jeugverhaal is Fanie Viljoen op sy heel beste!

’n Hele rits toekennings is aan Fanie se kinder- en jeugboeke toegeken. Hy het al telkemale ’n Sanlam-prys ontvang. Die M.E.R-prys is ook al twee keer aan hom toegeken, onderskeidelik vir jeuglektuur en vir geïllustreerde kinderboeke. Fanie ontvang ’n ATKV-kinderboektoekenning vir werke soos Slym en die gogga-sirkus, Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood, Nova: Die begin, Klou, Spring, Plons, Bravo, Lulu en Oepsie Daisy, Lulu. Twee van sy boeke, Poenk (uitgegee as Betower in 2012) en Afkop (2015), was naaswenners in LAPA se Jeugromankompetisie. Leeus met letsels en Uit het ook plekke op die IBBY-ererol ontvang.

Lof vir sommige van Fanie se werke

KOOP HIER | BUY HERE
By die Nova-weermagbasis word geheime weggesteek. Gevaarlike geheime. Iets is nie pluis op die weermagdorp Nova nie. Nadat Lucas een aand vreemde ligte in die naghemel gewaar, begin hy allerlei geheime oopkrap. Geheime oor besoekers uit die buitenste ruimte. Geheime waarby nie net Lucas nie, maar ook sy beste vriende en selfs sy gesin betrokke is. Gevaarlike geheime ... Die eerste drie titels in Fanie Viljoen se naelkou-wetenskapsfiksiereeks is nou in ’n omnibus beskikbaar: Die begin Iets is nie pluis in die dorpie Nova nie. Wat is die vreemde ligte wat Lucas en die res van sy gesin een aand op pad terug van vakansie sien? Waarom jok sy pa vir hom? Waarom is die weermag so geheimsinnig oor die projekte waarmee hulle agter hoë heinings besig is? En wat is die glibberige swart ding wat Lucas in die rivier gesien het? Voor hy sy oë uitvee, word Lucas en sy vriende deel van ’n wilde avontuurrit vol tergende – en gevaarlike – raaisels. Vuurdoop Dit is vir Lucas en sy vriende steeds onwerklik om te dink hulle is vroeër ontvoer. Deur ruimtewesens. Maar gelukkig is al vier van hulle nou veilig, en dinge op die weermagdorp, Nova, kan terugkeer na normaal. Als is egter nie pluis nie. Watter geheime skuil nog agter die hoë heinings van die Nova-eenheid? Wat sal gebeur as Lucas se pa uitvind die ruimtewesens het hulle geopereer? Wat beteken die vreemde aanvalle wat Lucas kry en wie is die geheimsinnige Sterreloper wat vir hom boodskappe stuur? En hoe lank voor die geheimsinnige ruimteskepe weer hul verskyning maak? Bloedbroers Lucas wens hy kan alles vergeet wat gebeur het ... Hy wil vergeet van die aand toe hy die eerste keer die vreemde ruimtetuig gesien het. Vergeet van die ruimtewesens wat hom en sy vriende ontvoer het. Vergeet van die vreemde voorwerpe wat daar op die ruimtetuig in hul koppe ingeplant is – en die vreemde kragte wat hulle daarna gekry het. Bowenal wil hy vergeet van die grusame vliegtuigongeluk waarin een van sy vriende dood is. Maar die Nova-weermagbasis is ’n plek vol geheime. Is Lucas en sy vriende gereed om die grootste geheim van almal te ontdek?

Oor die Nova-wetenskapfiksiereeks: “Hoewel die Nova-reeks gewilde leesstof is, sal dit ’n fout wees om dit te onderskat. Naas lekker inhoud bied Fanie Viljoen se werk emosionele diepte, taalkundige en tegniese vernuf en relevansie deur aan te sluit by diskoerse oor wetenskapfiksie, wetenskap van die buitenste ruim, asook ruimtewesens en verwante samesweringsteorieë.” (Mia Oosthuizen, Rapport, 19 Oktober 2014)

Oor Uit: “Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg ’n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak. Families en onderwysers kan insig verkry in die optrede en denkprosesse van seuns en meisies met wie hulle te doen kry.” (Coenraad Walters, www.litnet.co.za)

KOOP HIER | BUY HERE
Hierdie is ’n aand vir laastes. ’n Aand om jou kopie van The Catcher in the Rye in jou rugsak te druk en afskeid te neem van die huis waar jou pa elke aand te diep in sy whiskeyglas kyk, aan sy weermagdae terugdink, en jou en jou broer verskree en opfoeter. ’n Aand om die lysie uit te haal met die name van almal by die skool wat jou altyd irriteer en dink jy’s ’n freak en ’n weirdo. ’n Aand om hulde te bring aan die kultusflieks en kultusfigure wat jou ’n stem gee wanneer jy sukkel om jou eie stem te vind. ’n Aand om die swart strate van die stad met sy grafsteenkoue sypaadjies binne te vaar; kennis te maak met die narre, skimme, gargoyles en hulpeloses wat snags saam met die rotte uit hul gate kruip. ’n Aand om die donker ding binne-in jou beter te leer ken, te voel hoe hy sy vlerke uitstrek en sy vuiste bal. Hierdie is die laaste aand. Môre gaan ek ’n gun saamvat skool toe. In hierdie jeugboek takel Fanie Viljoen een van die moeilikste en uitdagendste onderwerpe waaroor daar nog ooit in Afrikaans geskryf is. In een hellenag konfronteer die swerwende, naamlose hoofkarakter sy duiwels kaalvuis; ontmoet hy vreemde en skrikwekkende karakters wat sy innerlike demone laat lewe kry; vertroetel hy sy wraakgedagtes soos ’n magasyn vol koeëls; lek hy die wonde van sy tienerseerkry. Hierdie is ’n nie ’n boek vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n boek wat tieners én hul ouers moet lees. Dis ’n boek oor seerkry en wraak. En tog is dit ’n boek wat onverwags troos en begrip, soos pleisters, uitdeel. Dis ’n vuishou van ’n boek.

Oor Pleisters vir die dooies: “Met Pleisters vir die dooies het Viljoen baanbrekerswerk gelewer en sodoende ’n grensverskuiwende oomblik in die Afrikaanse jeuglektuur teweeg gebring. Hierdie roman is Afrikaans se eie Catcher in the Rye wat die tienerpsige tot op die been ontgin ten spyte van die ‘donker’ onderwerpe wat aangeraak word.” (Dewald Koen, www.litnet.co.za)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS