Murray la vita

Skrywers Inspirasie: Murray la Vita

Murray la Vita vertel vir ons wat hierdie inperking vir hom beteken en hy antwoord ook ‘n paar ander vrae wat op lesers se tonge lê.

KOOP HIER | BUY HERE
Remarkable stories as told by Murray La Vita I wanted so bad for one of those phones to ring and for the man to pick it up, without looking amazed. Then he must smile and the voice that has been known to millions of people for decades, must say: “Hello, Elvis here”. Boodskapper van die gode is a selection from the award-winning journalist Murray La Vita's columns, sketches and essays. His unique writing style provides an unusual perspective in the 104 columns, essays and sketches in this book. La Vita’s experiences from his childhood and youth are varied with experiences while traveling to cities like New York, Paris, Rome and Amsterdam. He writes about why he could not visit the Anne Frank house, forbidden acts on islands, how he and his nephew, as five year olds, discovered war, his first love on Hangklip and how his friend turned into a witch. The reader will encounter melancholy, vulnerability and human fragility in these stories. The writer also includes wonderful humour and absurdities in his writing.

Wat val jou op tydens inperking wat jy andersins nie sou raaksien nie? Wat verras jou?

Ek slaap in ’n dakkamer en hou die gordyne snags oop, dus word ek baie vroeg wakker. Die eerste ding wat ek soggens doen, is om na die see te kyk – na Tafelbaai en die skepe wat daar lê. My studeerkamer, waar ek sit en skryf en onderhoude per telefoon, Zoom of Skype doen, kyk straat en berg se kant toe.

Omdat ons huis aan die voet van Duiwelspiek is, is ons bure oorkant die straat se huis hoër as ons s’n geleë. Iets vreemds is daar aan die gang. Ek hou die bedrywighede in die loop van die dag dop: Duur motors hou stil en dan kom die buurman (’n gawe en hoflike man in sy vroeë veertigs wat soms in ’n japon geklee is en soms in ’n kortbroek en T-hemp) met ’n kartondoos (altyd dieselfde grootte) by die trappe van sy huis afgestap en oorhandig dit aan die persoon wat daar stilgehou het. (Daar het pas ’n swart Jeep aangedoen.)  Ek brand om te weet wat in daardie dose is. En ek voel uitgesluit  – ‘n vlaag FOMO spoel elke keer oor my wanneer ’n oorhandiging plaasvind.

In hierdie dae het ek vir die eerste keer die oond van ons stoof begin gebruik asook ’n prutpot wat ek vyf jaar gelede as geskenk ontvang het. Ek kook dus met groot geesdrif. Ek verwonder my daaraan dat ek dit al amper reggekry het om aartappels lekker te braai.

In die loop van die dag klop daar minstens vier keer iemand aan wat kos vra. Ek gee kospakkies wat bestaan uit ’n pakkie rys of meel, ’n blikkie bone of ’n blikkie Lucky Star-Sardyne, twee aartappels, twee uie, vier lemoene, twee rooi appels. Dit is dikwels dieselfde mense wat weer terugkom. Een man se naam is Chivago (30). Hy woon saam met sy ma en eenjarige dogter, Sky(e), in ’n kamer agter in sy tante se erf.

Wat aan my vreugde verskaf, is die ghekkos wat rats rondbeweeg teen die groen tuinmuur of op die klippe en tussen die plante in die tuin. Ook hulle hou ek dop vanwaar ek by die kiaatlessenaar sit wat aan my oupa behoort het.

Teen sononder kyk ek van die balkon af na die agtertuin. Ek sien hoe die son oor die see ondergaan en die voëls vir oulaas woelig rondvlieg voordat hulle tot rus kom in die bome. Saans lees ek. Ek kyk selde televisie. Ek het wel onlangs na die reeks The New Pope gekyk en dit baie geniet.

Met wie, lewend of nie,  sou jy in hierdie tyd die graagste ‘n onderhoud wou voer?

Met M.E.R. Ek verbeel my by haar sou jy ’n nugterheid (soberheid), onopgesmukte wysheid en lewensvreugde aantref wat ’n oplugting vir sowel onderhoudvoerder as leser sou bied. Of met Laurie Anderson omdat sy so ’n groot kunstenaar en denker is wie se omvangryke talente, verbeelding en insig ’n bron van inspirasie en selfs hoop is.

Wat het die meeste tot jou gespreek in onderhoude wat jy in hierdie tyd gedoen het?

Veral die onderhoud met die skrywer en teoloog Cas Wepener voor die Pase. Hy het onder meer gesê: “Ek dink die sintuig wat nou die meeste ly, is die tassintuig, ons velle.”

Wat lees jy tydens inperking?

Lucy Ellmann se Ducks, Newburyport, wat (soos jy weet) uit agt sinne bestaan wat oor 1 020 bladsye strek – ’n manjifieke bewussynstroom. Dit is die verhaal van ’n middeljarige vrou van Ohio wat eens ’n dosent aan ’n universiteit was, maar nadat sy van kanker herstel het haar na haar kombuis teruggetrek het waar sy bak en nadink oor haar lewe, haar kinders en dit waaroor sy berou het. Sy sê in ’n stadium: “ … there’s a lot you just have to blank out if you want to get through life.” ’n Bergleeu kom nou en dan aan die woord. Die resensent Alex Preston skryf in The Guardian “Ducks, Newburyport tries to capture the reality of what it’s like to be trapped in the prison of the mind”. Ek het ook in hierdie dae Spanning op Keurboslaan van Theunis Krogh en Sontag: Her Life van Benjamin Moser gelees. En kortverhale van Clarice Lispector.

Is daar musiek wat vir jou belangrik is in hierdie tyd?

Ek luister in hierdie tyd min musiek, maar iets in Chavela Varga se weergawe van “Paloma Negra” het my ontroer. Ná haar dood het haar vriend, die Spaanse musikus Joaquin Sabina geskryf: “With the departure of Chavela, a way of singing as crying gets lost.”

Waarna verlang jy tydens inperking?

As ek een ding moet uitsonder dan is dit dat ek nie in boekwinkels kan kom nie. Byvoorbeeld Protea se tak hier in Kaapstad waar ek maklik ‘n hele oggend kan deurbring. Wie doen hul aankope?  Daardie mens (wat byvoorbeeld Radio Benjamin, ‘n bundel tekste van Walter Benjamin se radiobydraes vir die winkel gekies het) is nooit volprese. Ek stuur ‘n soen. Ek het te danke aan hom of haar ook al die wonderlikste  juwele op die rakke ontdek waar die kunsboeke gehou word.  En die afdeling vir Afrikaanse poësie ken geen gelyke nie. Die Book Lounge is die ander plek waarna ek in hierdie dae báie verlang. Soek jy Teju Cole se jongste werk? Wil jy ‘n getekende eksemplaar van ‘n Annie Leibovitz foto-cum-essay-boek koop? Die Book Lounge sal dit hê. Wat ek ook beskaafd vind, is die geleentheid wat hulle aan klante bied om boeke vir skoolbiblioteke in arm gemeenskappe te koop. Jy kies ‘n boek uit hul verskeidenheid, betaal daarvoor, en hulle besorg dit aan die biblioteek. Die Book Lounge kry op die oomblik swaar; ek gaan sodra ek my salaris ontvang ‘n boekbewys koop wat ek sal gebruik sodra hulle weer oop is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS