Skrywer Inspirasie: Christien Neser

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe om van jou anderster kind ’n ‘A+’-kind te maak! Om ’n tipiese kleuter groot te maak is geen grap nie. Hoe dan gemaak as jou kind ‘anders’ is? Wat as hy hiperaktief en aandagafleibaar is? Wat as jy vermoed sy’s op die outismespektrum? Hoe gemaak met lae spiertonus en ’n swak pengreep? Wat as hy ’n taalagterstand het, lispel of hakkel? En sê nou sy het nie leerprobleme nie, maar sukkel met angs? In Help! My kind is anders! beantwoord ’n span kundiges dié en vele ander vrae waarmee ouers vandag worstel. Is terapie werklik nodig of net ’n geldmaakstorie? En waar begin ’n mens as jy dink daar is fout? In 30 boeiende gevallestudies vertel ouers en terapeute saam hul ware verhale van deursettingsvermoë en hoop. Sielkundiges, spraakterapeute, oudioloë, arbeidsterapeute, fisioterapeute, spelterapeute en ander medici deel hul kennis, ervaring en geheime. Help! My kind is anders! is ’n praktiese gids wat jou met ’n gereedskapkis toerus om van jou en jou kind ’n kampioenspan te maak! Christien Neser is ’n skrywer en spraakterapeut wat al vir sowat 40 jaar in praktyk is.

Christien Neser is ’n skrywer, maar ook ’n spraakterapeut wat byna vier dekades in die praktyk is. Sy het saamgespan met ’n groep kundige kollegas om ouers se groot vrae te beantwoord. Maar die kersie op die koek is die verhale van deursettingsvermoë en hoop van ouers en hul superspesiale kinders. Kampioenspanne! Sy gesels met Heino du Plessis oor haar nuwe boek, Help! my kind is anders. Kliek hier vir die volledige onderhoud.

Wonder jy wat skrywers aanvang tydens inperking?

Lees gerus verder oor wat Christien Neser aanvang tydens inperking en haar raad aan ouers:

Wat val jou op tydens inperking wat jy andersins nie sou raaksien nie?

Eerstens hóór ek ander dinge. Die stilte. Ons hoor gewoonlik die N1 snelweg van halfses soggens dreun. En soos klokslag rondom 7 begin die polisiesirenes soos die Johannesburgverkeer sy eerste ongelukke aanmeld. Maar nou … salige stilte. En ek síén ook beter, want van ons huis af, kan mens oor die hele stad uitkyk. Elke gebou staan nou helderder afgeëts. En waar ons ook die vliegtuie in die verte vanaf ORT kon sien opstyg in die newels, is die lug nou glashelder en vliegtuigloos.

Watter praktiese advies het jy vir ouers van jong kinders tydens inperking?

’n Mens is in die eerste plek ’n kind se ouer; in die tweede plek is jy nou ’n tuiswerkende ouer. Om te probeer om van die huis af te werk, is om inbreuk te maak op die heilige ruimte waar die kinders voorheen kon gil en skree en speel. Mens moet probeer om roetine en orde te skep. Indien daar twee ouers is, moet hulle beurte skeduleer. Beide kan nie tegelyk op videokonferensies wees met klein kinders in die agtergrond nie. Dis moontlik om tye só te skeduleer dat kinders om die beurt een ouer kan hê wat hulle kan dophou, amuseer of net by hulle kan wees. Ja, daar gaan tye wees wat julle die televisie vir hulle gaan aansit, ’n tablet met speletjies in die hand druk of jou foon gee om mee te speel. Maar moet dit nie vir langer as ’n uur aaneen doen nie. Die WHO se riglyne vir skermtyd is as volg: Nie meer as een uur skermtyd vir kleuters tussen twee en vyf nie.

Dis bittermin vir ouers wat die TV of slimfoon as babasitter moet gebruik. Maak op vir langer skermtyd, deur elke nou en dan ’n lekker aktiewe speletjie te speel, buite te gaan hardloop, iets fisiek te doen soos stoei of touspring. Slim ouers sal die vorige dag al beplan watter aktiwiteite wanneer gaan gebeur. Vir kinders wat nog nie kan lees nie, kan ma en pa ’n visuele rooster opstel om te wys wat alles daardie dag gaan gebeur. En moenie op soetgoed steun om hulle stil te hou nie. Julle wil nie nou slegte gewoontes aanleer wat moeilik afgeleer gaan word nie.

Hoe sou jy as ouer te werk gaan om angstigheid by jong kinders in hierdie tyd aan te spreek?

Eerstens, inligting. Vertel hulle op hul begripsvlak hoekom pa en ma tuis is, sonder bangmaakpraatjies. Onthou, hulle is die gelukkige generasie wat waarskynlik glad nie gaan siek raak nie. Ma en pa ook nie. So dis nie nodig dat hulle vir die siekte moet bang wees nie. Jou kleuter kan allerlei vrese hê, al verwoord hulle dit nie, soos dat ma of pa of ouma of oupa sal doodgaan. Stel hulle gerus. Julle doen alles reg, was hande, isoleer, so dinge gaan regkom.

Tweedens, roetine. Kinders voel veilig binne grense. Hou by julle gewone roetine, staan op soos julle altyd opgestaan en aangetrek het. Daar is nie iets soos kinders in pj’s wat heeldag met deurmekaar hare rondslof nie. Nie in julle huis nie! Bly by die skoolroetine, trek aan, eet ontbyt. Werk vir julle almal ‘n  dagprogram uit en sit dit vir elke kind in hul kamer. Wanneer aanlynskool begin, skeduleer julle dinge daarvolgens. Pouse kan hulle steeds hul kosblik uit die yskas gaan haal. Dit verhoed dat kinders in kaste krap en heeldag peusel. Pak ‘n lekker kosblik vir elke kind (en ouer) en laat dit hulle rantsoen wees. Slaaptyd saans moet ook steeds soos gewoon wees, met die hele ritueel van bad, aandete, speel, storie, gebedjie, slaap.

Derdens, ekstra werkies vir ekstra voordele/geld. Elke kind moet ‘n werkie kry. Vergoed hulle daarvoor. Maar sorg dat hulle getrou die werkie doen. Dit skep spangees. Dis julle gesin se oorlogsplan teen die epidemie.

Vierdens, sorg dat julle dag nie te vol raak om nie ook tyd vir saamlees te skeduleer nie. Afhangend van hulle ouderdom, moet daar tussen ‘n halfuur en ‘n uur vir lees opsy gesit word. Die Britte noem saamlees by die huis, “The home literacy event.” Dis só belangrik, dat daar in ‘n reuse studie van die London University bevind is, dat kinders wat tuis blootgestel word aan daaglikse “home literacy events”, hul maats heeltemal uitpresteer. Selfs op drie jaar luister hulle beter, konsentreer hulle langer en het hulle ‘n beter woordeskat. Ma en pa, of hoe die gesin ookal saamgestel is, kan enige tyd van die dag met die kind gaan sit en lees, maar ‘n slaaptydstorie het ‘n heel ander dinamika en doel. O ja! En die 2016-studie by die Universiteit van Ohio het bevind dat woordeskat die een enkele faktor is wat kinders se skoolprestasie die meeste beïnvloed. In ‘n vyfjaarlange studie is bevind dat kinders wat van twee jaar tot ses jaar elke dag ‘n storie hoor, tot ‘n miljoen meer woorde gehoor het teen die tyd dat hulle begin skoolgaan. Dit is myns insiens ‘n kind se basiese mensereg. Ek wens ouers moes ‘n bloed-eed teken dat hulle vir hul kinders saans sal lees. Al is daardie kind al dikbek en dertien, raak mens nooit te oud vir ‘n storie nie.

Is daar spesifieke boeke wat jy vir jong of ouer kinders sal voorstel in hierdie tyd? Watter kriteria kan ‘n ouer gebruik om boekkeuses te maak?

Vir elke ouderdom is daar boeke wat ’n held bevat wat ’n struikelblok oorwin. Vir die heel kleintjies, kan dit iets wees soos Babalela. Kinders identifiseer só sterk met die protagonis van ’n storie (dis nou die held) dat hulle vir alle doeleindes self daardie held word. Die sielkundige, Christopher Bergland,  beweer dat ’n storie brein konnektiwiteit verbeter en hulle ‘n morele kode leer. Dit is hoekom klein kinders aanmekaar dieselfde storie wil hoor. Hulle wil net weer seker maak dat Jan tog die boontjierank betyds sal afkap, dat Hansie en Grietjie by die huis sal kom, dat varkies die wolf sal uitoorlê. ‘n Ander storie wat wonderlik werk, is Die goorgomgaai (The gruffalo). Indien ‘n kleintjie besonder bang of skaam is, is daar boekies wat spesifiek daarvoor geskik is. Soos die LAPA reeks: Die leeu wat skaam was, Die olifant wat bang was, ens. Maar die belangrikste is dat die ouer die heilige tyd van storievertel of storielees voor slaaptyd sal respekteer. Die intieme ruimte op die bed, met ma of pa styf langs jou, is kosbaar. Maak nie regtig saak wát pa vertel of ma lees nie, solank dit gelukkig eindig, sodat die kind sonder wroeging kan gaan slaap.

En wat van ‘n skerm in die slaapkamer?

Nee. Skerms stimuleer die frontale lobbe, en dis juis wat mens nie wil hê met slaaptyd nie. Mens wil skemerte hê, rustigheid en die minimum visuele stimulasie. As ‘n kind na ’n storie luister, verskuif die breinaktiwiteit na die oksipitale lobbe. En dit is ook waar visualisering plaasvind. Soos wat die ouer die storie vertel, aktiveer dit die kind se verbeelding om self beelde te skep. Dis ook die brein area wat deur drome geprikkel word. Drome help kinders om inligting te verwerk. En ’n goeie slaaproetine is uiters belangrik. Angstige kinders het slaap bitternodig. ’n Lekker slaaptydstorie is so goed soos ’n slaappil sonder enige newe-effekte. En los maar ‘n naglig aan, sit ‘n speelding in die bed en lê by hulle totdat hulle slaap. Om ‘n kind te help om angs te klop, is ‘n ongelooflike groot geskenk. Dit het lewenslange implikasies.

Wat van die ouer kind?

As die kind self lees en self wil lees, is dit die eerste prys. Anders kan die ouer steeds ‘n lekker boek voorlees. Reekse is vir meeste jong tieners ’n groot lekkerte. Mens kan vir ouer kinders ook uitdaag met moeiliker boeke wat die ouer kan voorlees en waaroor julle kan gesels. Die werk van prof Gregory Burns van die Emory Universiteit is hier ter sprake. Sy span het bevind dat studente wat ‘n lekkerleesboek voor slaaptyd lees, eerder as om te studeer totdat hulle gaan slaap, deur die bank beter vaar. Dit het te make met die konnektiwiteit in die brein wat deur die ontspanning van die lekkerleesboek verbeter word. (Lees gerus meer oor dié studie gepubliseer as “Short and Long term benefits of reading a novel on brain connectivity”. 2013 Brainconnectivity, 3(6)) So, deur jou kind en jong tiener aan te moedig om met ‘n leesboek in die bed te klim, is jy reeds besig om aan hul matriekpunte te werk!  PS. Daai selfoon onder die komberse is ‘n probleem. Jy en jou tiener sal daaroor moet gesels. Dis beter as die foon teen slaaptyd iewers in die gang slaap. Laatnag-whatsapps en slaap is nie maats nie.

Watter rak van jou gunsteling boekwinkel sal jy eerste raadpleeg wanneer hierdie fase van inperking verby is?

Die kinderboeke! Ek het ‘n splinternuwe kleindogter wat ek aan daardie rak by my naaste tak van Exclusive Books wil voorstel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS