Skrywer Inspirasie: Chanette Paul

KOOP HIER | BUY HERE
Corali dra net wit en swart maar dis nie oor die dood van haar man wat sy rou nie. As kunstenaar treur Corali oor iets heel anders en as vrou treur sy oor soveel meer as haar huwelik. Vywervrou: Corali is die laaste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 en 2020 verskyn. Die eerste titel is Vywervrou: Lira en die tweede is Vywervrou: Mirre.

Lees saam oor hoe Chanette Paul haarself besig hou gedurende die inperking.

Chanette, jy is dikwels vir lang tye alleen in jou skrywershuis waar jy vir ons lekkerleesboeke skryf. Ervaar jy die staat van inperking anders as te vore? Verduidelik asseblief?

Chanette Paul
Blom, die man in Chanette se lewe, hou hom ook besig tydens die inperking.

Self-isolasie is nie vir my vreemd nie. Ek is dikwels vir weke lank alleen aan die skryf naby die suidelikste punt van Afrika – sewe kilometer se slegte grondpad van die naaste kafee af. As Blom, die man in my lewe, se rivierboot in Stanford stil is en hy kan kom kuier, bring hy vir my voorrade. Gevolglik kan daar letterlik ʼn maand of selfs meer verby kan gaan sonder dat ek eens in ʼn motor klim of enigiemand anders as vir Blom sien. Die Covid-inperking is egter ʼn perd van ʼn heel ander kleur. Daar is ʼn enorme verskil tussen wil en moet; vrye keuse en dwang. Dis egter nie al wat die inperking anders maak nie. Daar is vrees in die lug. ʼn Mens is bekommerd oor ander. Jy word van regte en voorregte ontneem. Die feit dat ʼn mens verstaan en respekteer dat dit noodsaaklik is, kanselleer nie die ongemak wat ʼn mens voel nie.

Dis die soort ongemak voor ʼn storm. Hier in Suiderstrand het ons veral in die winter stormweer wat skrik vir niks. Stormsterk wind met rukwinde van skrikwekkende omvang wat daarmee gepaard gaan, is niks vreemd hier nie. Jy wag dit af, maak seker dat vensters goed toe is, dat daar niks is wat kan wegwaai nie, maar jy is nooit seker of dit nie dalk jou dakplate is wat dié keer gaan afwaai nie. Of jou glasdeur wat uit sy raam geruk gaan word nie. Dis hoe die inperking vir my voel behalwe dat ʼn mens weet dis nie net ʼn dag of twee se storm wat voorlê nie.

Die onsekerheid is die ergste. Dit het ʼn negatiewe invloed op my skryfwerk. Alles wat ek probeer skryf klink banaal, niksseggend omdat die normaal van die storie nie die normaal is van wat om ons aangaan nie. My muse het op die vlug geslaan. Maar ek moet bieg. Die eerste drie weke van inperking was vir my heerlik. Dit was ondanks alles wat ek hierbo sê van die lekkerste “vakansies” in my lewe. Blom bly by my gedurende die inperking en ons het baie pret. Ons lewe was voorheen so besig dat ons grotendeels verby mekaar geleef het. Nou herontdek ons mekaar en dis ʼn wonderlike ervaring.

Ek het vrede gemaak daarmee dat ek nie aan die skryf kan kom nie en saam doen ons dinge waaroor ons nog net gedroom het. Eendag wanneer ons aftree, sal ons… het nou gerealiseer. Ons maak tuin op plekke waar net brakkolle en droë bosse was. Ek maak steggies vir die nuut getemde plekke op die erf. Ons skoffel en spit en grawe, werk vrugbare grond in die sand in. Ek doen mosaïekwerk soos ek nog altyd wou. Blom doen opknapwerk wat lank agterweë gebly het.  As die wind ons binne hou bou hy na hartelus legkaarte terwyl ek my hande op ander maniere besighou. Ons maak saam kos. Maak tussendeur vir ʼn slag die huis vertrek tot vertrek behoorlik skoon. Was ruite! Ons bly besig. Amper te besig.

Kort nadat die verlenging van die inperking afgekondig is, het ek op ʼn oggend met keelseer opgestaan en besef ons het amper te freneties te kere gegaan. Vir twee dae het ek net gerus en my keelseer het verdwyn. En snaaks genoeg, kon ek die dag daarna weer begin skryf. Nie omdat ek moet, soos so lank die geval was nie, maar omdat ek wil.

Dus ja, ek ervaar die staat van inperking geweldig anders. Want dit is anders. Dis die begin van ʼn nuwe bestel. En niemand weet hoe dié daar gaan uitsien nie. Intussen probeer ek net die beste maak van ons tyd saam en pak elke dag van nuuts af aan met dankbaarheid vir wat ons het terwyl ander soveel swaarder kry.

Baie van jou boeke gaan oor vroue wat ingeperk word deur mans wat hulle emosioneel mishandel. Ek bedoel dit geensins ligtelik nie. Jy skryf dikwels oor mense wat alleen staan teen ʼn onsigbare vyand; veral vroue wat veg teen dit wat die buitewêreld nie wil sien nie. Hoe so?

Want dit gebeur. Ek ys om te dink hoeveel vroue in sielkundig begrensde inperking leef en probeer oorleef. Dis nie ʼn syfer wat ʼn mens realisties kan bepaal nie omdat daar soveel grade van hierdie soort inperking is. Dit wissel van emosionele verwaarlosing tot emosionele afknouery tot emosionele mishandeling in sy ergste vorm. Die soort wat dikwels muteer tot fisieke geweld.

Ek skryf daaroor omdat soveel mense– ja, mense, nie net vroue nie – nie eens besef dat hulle vasgevang is in ʼn web wat dodelik kan wees nie. Nie net dodelik vir die liggaam nie, maar veral dodelik vir die gees. Ek skryf daaroor sodat mense – ja, veral vroue – kan besef dat dit hoegenaamd nie oukei is om verkleineer te word, neerhalend behandel te word en veral nie om afgeknou te word nie. Dat hulle wel kan wegbreek deur hulle selfagting te herwin.

Corali, die hoofkarakter van jou laaste boek, word eers ingeperk wanneer ʼn magtige mens haar kuns van haar wegneem, dan gaan sy in ʼn soort self-isolasie en leer ʼn nuwe kunsvorm aan. Dink jy kuns is belangrik vir “gewone” mense soos ek?

Ja. Op vele vlakke. Kuns verryk ʼn mens se lewe al is dit net deur ander se kuns te bewonder. Dit bring vervulling om self iets kreatiefs aan te pak. Daar is min werklike kunstenaars, maar ons almal kan iets maak. Sommige mense is van nature meer kreatief as ander, maar enigeen kan ʼn vorm van kreatiwiteit uitleef. Dit kan iets bruikbaars wees of iets wat sommer net mooi is. Of sommer net vir die lekker. Die “crafts”-moontlikhede is deesdae eindeloos. ʼn Mens hoef maar net op Pinterest rond te kyk vir inspirasie.

Dikwels verras ʼn mens jouself met wat jy kan uitrig. In baie gevalle met die minimum tot jou beskikking. Soos byvoorbeeld papiermaché. Met papier, houtlym en ʼn bietjie verf is jy gereed om weg te spring. Om te skep is geweldig bevredigend en maak ʼn mens se kop oop. Ek glo dis ʼn uitstekende antidote teen stres en neerslagtigheid.

Mag ek vra waaraan jy werk? Jy mag NEE sê!

My lesers het gevra vir ʼn boek oor Marilyn, een van die newekarakters in die Vywervrou-trilogie. Ek het ingestem, daarmee begin en toe vasgehaak. En toe kom die inperking en alle woordkreatiwiteit waaroor ek beskik verskrompel. Hoe skryf mens immers ʼn storie wat deels in 2020 afspeel as dit nie die 2020 is wat jy voorsien het nie. En nie naastenby kan voorsien hoe dit gaan afloop nie.

Chanette Paul
Chanette besig met haar mosaïek.

Maar terwyl ek in die tuin woeker en my mosaïekteëltjies plak, ondergaan die storie in my kop ʼn gedaanteverwisseling. Ek begin nou weer versigtig en voel-voel skryf. Dis nie die storie wat dit sou gewees het nie, maar dit is Marilyn se storie. Soort van.

Wat lees jy tydens inperking?

Lees is vir my een van die lekkerste dinge ooit en tog sukkel ek die afgelope weke om te konsentreer. Tans wil ek eerder buite en bedrywig wees. Wanneer die weer dit nie toelaat nie het ek na ʼn paar sielkundige rillers geluister terwyl ek klippe verf vir my tuin, maar nie een kon werklik my aandag hou nie. Die stories speel af in ʼn ander wêreld as waarin ons leef. Gaan meesal oor kwessies wat nou teen die agtergrond van ons nuwe wêreld onbenullig lyk. Eintlik voel ʼn mens asof jy self in ʼn toekomsriller vasgevang is en omdat jy nie die skrywer van die storie is nie, weet jy nie hoe dit gaan eindig nie.

 Ek dink dis nou vir my belangriker om my eie lewe te leef eerder as om my in ʼn ander sʼn te verbeel. Maar as ek eers lostrek, weet ek gaan ek lees weer van voor af geniet. Soos dit met die skryf die geval is.

Luister jy graag musiek as jy alleen is, of juis nie? Vertel ʼn bietjie meer?

Ek en Blom is baie lief vir musiek. Ons luister graag saam en het letterlik duisende CD’s. Ons is nog van die CD-soort en het selfs nog LP’s en ʼn ou platespeler. (Spotify klink vir my na ʼn oulike naam vir ʼn foksterriër). Wanneer ek egter alleen is, luister ek net by uitsondering. Die voëlgeluide, die see se geruis, die wind in die fynbos is vir my ʼn lekkerder ouditiewe agtergrond terwyl ek oor my storie dink en broei.

Laastens: Boekwinkels kry geweldig swaar op die oomblik. Vertel ons asseblief hoe ons boekhandelaars moet en kan ondersteun in hierdie tyd?

As boekwinkels swaar kry, kry skrywers swaar. As skrywers swaar kry moet hulle op ander maniere ʼn inkomste bewerkstellig. As hulle dit doen, het hulle nie tyd vir skryf nie en kry lesers nie meer nuwe boeke van hulle nie. Die antwoord is dus eintlik eenvoudig. As jy wil hê dat nuwe boeke aanhou verskyn, koop. Daar het juis gedurende die inperking ʼn hele paar wonderlike boeke verskyn.

Benewens e-boeke is daar baie boekwinkels soos Graffiti, Book Lounge en ander wat bestellings neem en sal aflewer sodra die inperking verby is. Bestel vir jou eie rak, koop geskenkbewyse vir familie en vriende. As jy wil aanhou lees, nog in ʼn boekwinkel wil ronddwaal in ons nuwe wêreld ná inperking, en as jy dit enigsins kan bekostig: koop en koop nou. Asseblief?

Koop Chanette Paul se boeke by jou naaste boekwinkel of besoek Lapa.co.za vir die e-boeke.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS