Skakerings van Geluk – Madelie Human

Stef Britz kyk na die bibliotekaresse in haar formele kantoordrag met die serp wat by haar keel in ’n ingewikkelde strik geknoop is. Skielik jeuk sy vingers om die strik los te wikkel, haar bril af te haal, haar netjiese hare met sy vingers om te krap en haar op daai aanloklike pienk mond te soen totdat sy smeek vir meer.

Haar geluk bestaan uit verskillende skakerings ... Lea Richter is vasgevang in ’n situasie waaruit sy nie kan kom nie. Haar ma is aan ’n rolstoel vasgekluister, erg depressief en afhanklik van haar. Lea se onblusbare gees hou haar egter staande: met haar kragtige motorfiets gaan sy op lang ritte en saans skryf sy romanses onder ’n skuilnaam om haar balans te probeer hou. Om den brode is sy die prim en proper bibliotekaris van Fynbos. Stef Brits, ’n motorfietsrenjaer en handelaar, stap met sy groot stewels in haar biblioteek in en kom gooi haar saai bestaan geheel en al skoon omver. Hy is aantreklik en opwindend – die verpersoonliking van die helde wat Lea vir haar romanses skep. Stef het lankal besluit dat hy nooit wil trou nie, maar Lea doen iets aan hom wat hom erg omkrap. Hy is ’n filofobiak, bang vir die liefde, maar het nooit met ware liefde rekening gehou nie. Die hekelgroep van Skakerings besef dat hulle hul plig teenoor Lea en haar ma versuim het en beraam planne om die twee verliefdes te hulp te snel. Lea se ma onthul egter wat die oorsaak van haar psigosomatiese verlamming is en plaas ’n splinternuwe hindernis op die paartjie se pad na geluk. Kan hulle ook dit oorkom?

EEN

Toe Lea opkyk van haar tablet waar sy met haar kubervriendinne sit en kuier, staan hy daar in die deuropening. ’n Hersenskim. Haar droomheld is nie van vlees en bloed nie, hoe kan hy hier by die biblioteek instap? Skuldig vee sy oor die skerm om die beeld te verwyder. Sy mag nie op die sosiale media kuier hier by die werk nie, maar wat het sy nou anders om te doen? Die mense van Fynbos besoek nie heeldag en aldag die biblioteek nie. Haar werk is op datum en sy mag nou wel lees, maar lees is deesdae baie minder opwindend as die internet. ’n Meisie van ses en twintig wat nie eens ’n man in haar lewe het nie, moet darem ’n bietjie opwinding iewers kry.

Sy weet dat baie eensame mense deesdae liefde op die internet gaan soek, maar dis nie vir haar nie, al loer sy op Facebook na die aantreklike mans om idees te kry vir die helde van die romantiese verhale wat sy in die geheim skryf. Vir haarself soek sy egter ’n vlees-en-bloed-man, een wat haar polsslag laat versnel en haar asem laat opraak. Soos hierdie een wat pas by die deur ingestap het. Lea knip haar oë en kyk weer. Dit is hy en hy is werklik! Dis die man van haar drome. Hy lyk sowaar nes die een wat sy al maande lank in die geheim op Facebook volg. Lank, donker, sterk kakebeen met ’n donker vyfuurskaduwee op sy wange en ken.

Rustig, met lang treë kom hy nader en plant sy gestewelde voete hier reg voor haar lessenaar. Helderblou, intelligente oë loop lui oor haar gesig. Ag, sy weet dis die clichébeskrywing van ’n storieboekheld, maar sy leef mos in elk geval heeldag hier tussen die papier-en-ink-helde wanneer sy die nuwe Romanzas wat LAPA elke maand stuur, verslind – net om idees te kry vir haar eie boeke, natuurlik. Sy hare is kort en staan orent soos dit nou mode is. Die kragie van sy oorpak, een soos dié wat renjaers dra, staan parmantig regop teen sy bruingebrande nek. Onder sy een arm hou hy ’n silwer valhelm, nes die motorfietsryers op TV. In sy ander hand het hy ’n leerbaadjie wat ongeërg oor sy een skouer gegooi is. Opwindend. Manlik. Sjoe.

Lea wil vra of sy hom kan help, maar haar mond wil nie werk nie, daarvoor is haar tong en keel hopeloos te droog. ’n Alleenlopermeisie ontmoet mos darem nie aldag die man van haar kuberdrome in lewende lywe nie.

Hy het blykbaar nie dieselfde probleem nie. Nee, hy is in staat om haar behoorlik te bekyk én op die koop toe te praat. “Ek behoort eintlik aan ’n biblioteek in die stad, maar ek weet dat die reeks boeke wat ek soek hier in julle biblioteek is en ek het besluit om dit self te kom haal.”

“Hoe interessant.” Interessant? Agge nee, haar verstand het ook saam met haar tong en stem die pad gevat. ’n Wyse vrou behoort mos in sulke situasies op haar voete te kan dink, wat is dit dan nou met haar? Maar nou ja, sy was nog nooit juis wys nie.

Hy glimlag skeef, so asof hy baie dinge weet wat sy nie weet nie en sit sy helm en leerbaadjie op die toonbank voor hom neer. “Dit is nogal interessante boeke, ja.” Sy tong is duidelik stewig in sy kies en nie vasgeplak teen sy verhemelte soos hare nie.

Senuagtig klik sy die rekenaarskerm aan en probeer professioneel lyk en klink. “Wat is die titels en naam van die skrywer?” Dis maar heserig, maar haar stem werk darem hierdie keer. Dankbaar vir die klein genade, kyk sy vol bravade op, vas in die blou blik en daar gaat haar immer ontwykende wysheid al weer. “H’m?” is al wat sy verder uitkry.

Sy glimlag trek nog skewer en ’n duikie verskyn in sy een wang. Die sprekende oë lag nou openlik vir haar. “Dis ’n reeks oor die voertuie wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is. Ek het al die titels hier, maar eintlik soek ek net die een oor motorfietse.” Hy haal ’n dubbelgevoude papier uit die binnesak van sy leerbaadjie.

Sy hoef dit nie te lees om te weet van watter reeks hy praat nie. Lea Richter ken die boeke in haar biblioteek. “O, ek weet watter reeks jy bedoel. Ek het dit al gelees.” Sy ken die een oor motorfietse feitlik uit haar kop!

Sy hande raak stil op die toonbank, sy wenkbroue wip. “Jy het dit gelees?”

Lea se rugstring trek styf. Genoeg nou van hierdie versukkeldheid. Dis tyd dat sy haar laat geld, a nee a! “Die ongelowigheid op jou gesig en in jou stem impliseer duidelik dat ’n vrou nie in sulke dinge behoort belang te stel nie.”

“Nee, inteendeel,” val hy haar in die rede met oë wat lewe van pret.

Lea voel allesbehalwe prettig. Sy is moeg van chauviniste wat vroue in netjiese boksies met pienk strikkies wil plaas. Hy hoef nie van haar belangstelling in die voertuie van die Tweede Wêreldoorlog, in die besonder die motorfietse, te weet nie. Sy druk haar nuwe leesbril met die pers raam hoër teen haar neusbrug op. “Inteendeel wat?” Ergerlikheid veroorsaak dat al haar kommunikasiefunksies nou weer in volle sterkte funksioneer. Dankie tog vir adrenalien.

Blykbaar kan hy dit sien en albei sy hande beduie dat hy hensop. “Ek is maar net verbaas dat jy dit gelees het, dis al. Jy lyk vir my eerder na iemand wat boeke by die afdeling vir liefdesverhale sal uitneem.”

Daaroor ruk sy haar behoorlik op. Dat sy elke liefdesverhaal in die biblioteek al meer as een maal gelees het – net vir navorsingsdoeleindes, natuurlik – het niks met hom te make nie. “Daar word van my verwag om die boeke in die biblioteek te ken.”

Lea kom doelgerig agter die toonbank uit en beduie dat hy haar moet volg. Sy loop reguit na die rak met die geskiedenisboeke en wys na die betrokke stel wat in gelid op die rak staan, netjies afgestof soos al die rakke in die biblioteek. Hulle dorp se biblioteek is klein, maar dis haar heiligdom en sy is trots op haar werk. “Die reeks is volledig en al die dele is op die oomblik hier. Jy kan dit daar in die leeskamer gaan lees.” Sy wys na ’n glasmuur waaragter ’n lang tafel en stoele staan.

Stef Britz kyk na die bibliotekaresse in haar formele kantoordrag met die serp wat by haar keel in ’n ingewikkelde strik geknoop is. Skielik jeuk sy vingers om die strik los te wikkel, haar bril af te haal, haar netjiese hare met sy vingers om te krap en haar op daai aanloklike pienk mond te soen totdat sy smeek vir meer. Hy sug innerlik. Asof sy dit sal toelaat. Sy sal hom sekerlik met ’n dik woordeboek oor die kop slaan en hom net hier tussen die boekrakke vir dood agterlaat.

“Mag ek dit dan nie uitneem nie?” vra hy teleurgesteld.

“Nee. Die enigste manier vir jou om die boeke tuis te gebruik is deur die interbiblioteekdienste. Die biblioteek waarvan jy ’n lid is, moet aansoek doen om die boeke van hier af vir jou te bestel. Ons pos dit soontoe en dan mag jy dit daar uitneem. Jy mag dit nie self hier kom haal nie. Ek kan jou slegs toelaat om dit hier in die biblioteek te lees.”

Haar geluk bestaan uit verskillende skakerings ... Lea Richter is vasgevang in ’n situasie waaruit sy nie kan kom nie. Haar ma is aan ’n rolstoel vasgekluister, erg depressief en afhanklik van haar. Lea se onblusbare gees hou haar egter staande: met haar kragtige motorfiets gaan sy op lang ritte en saans skryf sy romanses onder ’n skuilnaam om haar balans te probeer hou. Om den brode is sy die prim en proper bibliotekaris van Fynbos. Stef Brits, ’n motorfietsrenjaer en handelaar, stap met sy groot stewels in haar biblioteek in en kom gooi haar saai bestaan geheel en al skoon omver. Hy is aantreklik en opwindend – die verpersoonliking van die helde wat Lea vir haar romanses skep. Stef het lankal besluit dat hy nooit wil trou nie, maar Lea doen iets aan hom wat hom erg omkrap. Hy is ’n filofobiak, bang vir die liefde, maar het nooit met ware liefde rekening gehou nie. Die hekelgroep van Skakerings besef dat hulle hul plig teenoor Lea en haar ma versuim het en beraam planne om die twee verliefdes te hulp te snel. Lea se ma onthul egter wat die oorsaak van haar psigosomatiese verlamming is en plaas ’n splinternuwe hindernis op die paartjie se pad na geluk. Kan hulle ook dit oorkom?

Die prim-en-proper juffrou met haar Bennie Boekwurm-bril lyk baie in haar skik met die slegte nuus wat sy daar met daai mooi bekkie van haar in suiwer Afrikaans staan en uitdeel. Hy vou sy arms en anker weer sy bene ’n ent uit mekaar. “Jy kan nie die reëls net so ’n klein bietjie buig nie?”

Haar mond trek op ’n roosknopplooi. “Onder geen omstandighede nie.”

“Nie eens vir my nie?” vat hy ’n wilde kans terwyl hy sy beste glimlag uitstal. ’n Man kan mos probeer. Sy sjarme werk darem gewoonlik met die skoner geslag.

Die roosknop maak wyd oop en weer toe. “Natuurlik nie.”

Stef voel weer die begeerte om haar te soen, maar onderdruk sy oorlamse libido met geweld. Só gaan hy duidelik nooit kry waarvoor hy gekom het nie. “Onder watter omstandighede sou jy dit wel mag doen?” vra hy saaklik.

“Jy kan aansoek doen om lidmaatskap by hierdie biblioteek.” Haar hand met die netjiese naels druk ’n krul wat dit durf waag het om uit die stywe haarstyl te ontsnap, agter die skulp van haar oor in.

Jip, hy sal daarvan hou om haar behoorlik uit die stywe kokon wat sy om haar gespin het te lok en te wys hoe om haar fyn vlerkies, wat sekerlik onder die sybloes netjies toegevou is, te toets.

“Nou, waarvoor wag ons? Waar is die vorm wat ek moet invul?” As hy lid van hierdie biblioteek is, kan hy net miskien weer kom kuier om haar ’n ding of twee te kom leer.

“’n Aansoek neem ’n paar dae om goedgekeur te word en dit hang af van jou permanente woonadres.”

“Wat het dit met my woonadres te make?” hou hy hom dom, net om te sien hoe sy sal reageer.

Die pragtige mond maak weer onverbiddelik toe. Haar gesig sê sy sien dwarsdeur hom. “Lidmaatskap by ons biblioteek is eksklusief vir die inwoners van ons munisipale area.”

Stef lek oor sy lippe en druk sy hande in sy oorpak se sakke. Jislaaik, die versoeking is groot. “Eksklusief, sê jy?”

Sy sug asof sy hom net so effens dom vind, stoot weer haar bril boontoe oor haar reguit neus. “Ek het so gesê, het ek nie?”

“Dan sal ek maar net eenvoudig vir ’n paar dae hier moet kampeer.” Hy gaan haal sy leerbaadjie en valhelm en sit dit op die tafel in die leeskamer agter die glasmuur neer.

Haar netjies geplukte wenkbroue ontmoet mekaar byna in die middel. “Kampeer?”

“By wyse van spreke, ja.” Stef toets weer sy verleidelikste glimlag. Gewoonlik werk dit mos vir hom. Dalk val sy daarvoor en gee tog maar in, al is dit net om van hom ontslae te raak.

“Slaan gerus jou tent op, Meneer, die boeke gaan nie by die deur uit nie. Daar bestaan geen uitsonderings nie. Nie eens vir jou nie, al flikflooi jy hoe hard,” wys sy weer haar dorings vir hom. Daarmee draai sy flink weg en klik-klak op haar hakskoene op pad terug na haar werkstasie toe.

Stef snuif die lug wat wil-wil na rose in plaas van ou boeke ruik en kry nie die impuls onderdruk om haar agterna te staar nie. Hy kyk. Verbeel hy hom, of wieg daai netjies geronde heupe in die pienk romp net so effentjies meer as wat nodig is? Hoekom voel hy nou uitgedaag pleks van op sy plek gesit? Hy stap agter haar aan. “Flikflooi? As ek flikflooi, sal jy dit weet, prinses Rosegeur, jy sal nie daaroor hoef te wonder nie.” Hy kyk rond, maar sien geen siel behalwe ’n skoonmaker wat staan en boeke afstof nie. Die klein dorpie kan seker nie meer as twee werknemers vir die biblioteek bekostig nie.

“Ek hoef nie te wonder nie. Jy dink dat elke vrou jou speelding is en dit net oor jou breë skouers en jou mooi gesig.” Haar oë rek asof sy nie bedoel het om die woorde hardop te uiter nie. Sy gaan terstond agter haar toonbank sit en die punt van haar ken lig ’n hele paar parmantige grade. “Dit vat baie meer as flikflooi om my te uitoorlê,” sluit sy vol bravade af.

Stef lag dat die vrolike klank daarvan teen die hoë dak van die gebou eggo. Breë skouers en mooi gesig? Nes hy gedink het, sy het hom ook raakgesien, al hou sy haar so styf en formeel. Daar is baie meer as net kennis uit muwwe ou biblioteekboeke tussen Doringrosie se ore en hy gaan dit uitlok, kom wat wil. Stef Britz hou mos van uitdagings.

“Ouma Sue.” Stef sit albei arms om haar, lig haar effens, swaai haar twee maal in die rondte. Sy is sy absolute gunstelingpersoon op die aarde, sy oumatjie wat al hoe kleiner word soos die jare aanstap. “Hoe gaan dit?”

“Stefanus Britz, wanneer sal jy leer om jou ouma met respek te behandel en haar nie soos ’n klein hondjie op te tel en rond te gooi nie?” raas sy kastig kwaai, maar haar hele gekreukelde gesig straal suiwer liefde vir haar kleinseun uit.

Hy sit haar saggies neer, soen haar op albei wange en laastens op haar mond. “Ek is baie lief vir Ouma ook.”

“En wanneer gaan jy iets anders as hierdie heidense motorfietsklere aantrek wanneer jy vir jou ouma kom kuier?” Sy pluk aan sy oorpak se kragie met die een hand, maar streel liefderik oor sy wang met die ander.

“Ek het na Ouma ook verlang,” paai hy. Haar geraas is net om haar vreugde om hom te sien so ’n bietjie te verdoesel.

“Ja, sê maar so. Wat het ’n eensame weduwee nou anders om te doen as om te verlang na haar enigste kleinkind, wat byna nooit kom kuier nie?” voltooi sy die groetritueel wat altyd tussen hulle afspeel wanneer Stef hier op Fynbos by haar kom kuier. Sy draai om en stap die koel huis binne.

Stef hang sy helm en leerbaadjie oudergewoonte aan die kapstok waar sy oorlede oupa Stefaans se hoed en baadjie etlike maande ná sy dood steeds hang. “Ouma kon my lankal van die mooie bibliotekaresse hier op julle dorp vertel het, dan sou ek baie meer kom kuier het.”

Ouma Sue skakel die ketel aan. “O so, dan het jy onse Lea ontmoet. Oulike kind. So ordentlik en op haar plek. Lea Richter weet hoe om ou mense die respek wat hulle verdien te bewys.”

Stef haal die beskuitblik uit die kas waar dit al die jare nog steeds op dieselfde plek staan. Ouma Sue hou dit vol boerbeskuit, spesiaal vir sy kuiers. “Lea.” Hy proe die naam op sy tong. “Die naam pas haar. Bybels en korrek.”

Met rustige bewegings verskuif sy die koppies op die skinkbord wat altyd gereed staan vir gaste. “Daar is baie meer aan Lea as net haar kennis van boeke, hoor jy?”

Dit het hy agtergekom, maar hy wil meer weet. “Soos wat?”

“Al die jong mans van die omgewing het al gaan vlerksleep daar by die biblioteek, maar sonder enige welslae. Sy weet te vertel sy wag vir die regte een.”

“En watse soort man sou die regte een wees?”

“Nie ’n vlerkslepende een nie. Dit sal ’n man moet wees wat haar kan laat vlieg.”

“Vlieg soos in ’n Boeing of ’n ding?” vra Stef van die koelkas af waar hy die melk gaan haal het.

“O nee. Hy sal die wind onder haar vlerke moet wees soos in daardie mooie liedjie op die CD wat jy Kersfees vir my gebring het.” Sy gooi melk in die bekertjie op die skinkbord.

You are the wind beneath my wings, weerklink Bette Midler se stem in Stef se kop. “Hoe doen ’n man dit?” Hy gaan sit by die kombuistafel, versigtig om sy oupa se stoel aan die kop van die tafel liewer te vermy, hy weet van beter. Sy ouma sukkel nog om oupa Stefanus se dood te verwerk. Gelukkig het sy baie vriendinne in die hekelgroep waaraan sy behoort. Sy vertel altyd dat die weeklikse kuiers saam met haar vriendinne al terapie is wat sy nodig het. Hy kyk na die wiegstoel met haar mandjie hekelwerk langsaan wat vir jare al presies daar in die sonkol by die venster met die uitsig oor die see staan. Sy ouma en oupa se rustige bestaan hier op Fynbos het hom al die jare geanker laat voel. Sy ouers is te rusteloos.

“In die eerste plek sal hy haar moet leer verstaan,” is Ouma se wyse raad. Sy gee ’n koppie koffie oor die tafel vir hom aan.

Stef help hom aan melk en suiker en bekyk sy dierbare ouma aandagtig. “Hoe? Vroumense is onverstaanbare goed.”

“Lea is ’n enigste kind wat effens eensaam en baie beskermd grootgeword het. Sy kon weens omstandighede nie universiteit toe gaan nie, al het die skoolhoof hoe hard probeer om haar ma te oortuig dis die beste vir haar. Wat word Biblioteekwese deesdae genoem?”

“Inligtingkunde.”

“Dis reg. Sy het Inligtingkunde oor die pos gestudeer.”

Stef kan nie glo wat hy hoor nie. “Om jou kind die ervaring van studentwees te ontneem is byna net so erg soos verwaarlosing.” Sy studentedae op Stellenbosch was die beste jare van sy lewe.

“Jy vertel my. Nie dat sy toegelaat het dat dit haar inhibeer nie, hoor. Onse Lea weet van alles iets. Sy het besluit as sy nie die lewe daar buite kan beleef nie, sy als wat sy kan, wys sal word uit boeke en op die internet.”

“Maar sy is tog seker lankal mondig? Hoekom is sy hoegenaamd nog hier?” vra Stef ongelowig.

“Die kind versorg haar verlamde ma sedert sy maar agtien jaar oud was. Dis juis hoekom sy nooit universiteit toe is nie.”

’n Lig gaan vir Stef op. Die roosknopmeisie raak al hoe interessanter en hy kry sommer respek vir haar. “En vriende? Sy het tog seker darem vriende hier rond?”

Ouma Sue roer haar koffie om en om. “Sy het vriende, ja, maar hier is bitter min jong mense op die dorp. Die meeste van haar maters het lankal uitgewyk stad se kant toe.”

Stef doop sy beskuit in die koffie en dink aan die indruk wat hy daar in die biblioteek gekry het dat sy haar in ’n kokon toegespin het. Kokon se voet, haar omstandighede het haar in ’n tronk toegesluit gehou! Geen wonder sy is so prim en proper soos ’n negentiende-eeuse goewernante nie.

’n Plan neem in sy kop vorm aan. “Kan ek vir ’n week of twee hier by Ouma kuier?” Ouma sal dit sekerlik met ope arms verwelkom. Hy sal sommer gou môre teruggaan stad toe om sy sake daar te reël. Hy het lanklaas verlof geneem om iets lekkers te doen. Sy vennoot skuld hom juis ’n bietjie af tyd. Die 1943-Harley hier in sy oupa se motorhuis lok die ingenieur in hom mos lankal al.

“Oe, dit sal lekker wees. Natuurlik kan jy, maar mag ek vra hoekom? Jy kuier nooit langer as ’n naweek of so nie.”

“Vir Ouma se lekker kos, natuurlik, hoe dan anders? Maar eintlik wil ek ’n bietjie aan Oupa se ou motorfiets werk.” Hy wil sommer ook kyk of hy ’n sekere roosknop kan help oopgaan, maar dit sê hy nie hardop nie. Dis meer as wat sy ouma hoef te weet.

“Die Harley is mos nou joune.” Ouma Sue se oë raak mistig. “Nou laat jy my so aan jou oupa Stefaans in sy jong dae dink. Toe hy van die oorlog af teruggekom het, kon niks hom keer nie en was ons binne weke getroud. Ai, ons was so jonk.”

H’m, het hy nou gedink hy kan haar ’n rat voor die oë draai? Soos gewoonlik is sy op dieselfde golflengte as hy en weet sy instinktief dat die Harley nie die enigste trekpleister is nie. Stef glimlag. Ouma Sue is so skerp soos ’n skeermeslemmetjie, al is sy al sterk op pad negentig toe. Sy vertel hom gedurig hy aard na sy oupa en soos gewoonlik is sy heeltemal reg. Maar van trou wil hy niks weet nie. Trou is vir romantiese drommels soos sy vriend Jack wat aan die liefde glo, maar Stef Britz se voete is te stewig op die aarde. Hy is nog lank nie gereed vir vrou vat nie. Daar sit arme ou Jack nou al met sy tweede vrou wat al sy geld bestee so vinnig as wat hy dit kan verdien. Dis nie vir hom nie, baie dankie. Die wankelrige voorbeeld van sy ouers se huwelik het hom totaal daarvan genees.

Oupa, wat in die Tweede Wêreldoorlog twee medaljes vir dapperheid verdien het toe hy nog jonger as agtien was, was ’n man wat nie vir uitdagings geskrik het nie. Hy staan nou wel nie ’n kans om soos oupa Stefaans met ’n medalje vir dapperheid vereer te word nie, maar hy hou net soveel van ’n uitdaging.

“Ouma onthou seker van die stel boeke wat Oupa vir die dorpsbiblioteek geskenk het?” Hy neem vir hom nog ’n vet stuk beskuit. Niemand anders kan boerbeskuite soos sy ouma Sue bak nie.

“Natuurlik onthou ek daarvan. Dit staan nog al die jare op dieselfde rak in die biblioteek.”

“Ek wil dit graag uitneem om te lees, maar Lea wil my nie toelaat nie. Ek moet glo lid van Fynbos se biblioteek wees.”

“Dit klink soos Lea. Altyd een wat stiptelik by die reëls hou.”

“Maar ek het dit nodig om die inligting oor die ou Harley te kry.”

“Hoekom nou skielik? As jou oupa geweet het dat jy daarin belang sou stel, sou hy die boeke vir jou saam met die fiets nagelaat het eerder as om dit weg te gee. Ek glo nie iemand het dit al ooit uitgeneem om te lees nie.”

Behalwe die mooie Lea met haar formele werksklere en ewe formele haarstyl. Skynbaar. Hy wonder steeds of sy dit regtig gelees het soos sy sê. “Ouma weet mos motorfietse is my lewe en ek wil Oupa se Harley restoureer. In daardie boeke is baie inligting oor die ou motorfietse wat die weermag in die oorlog gebruik het, wat my daarmee kan help.”

“Jy kan terwyl jy hier is my biblioteekkaartjies daarvoor gebruik,” sê sy terloops, want soos gewoonlik is haar gedagtes altyd by Oupa. “Miskien moet jy my môre na die graf toe neem dat ek hom kan gaan vertel van jou werkery aan die fiets?”

Dis nie eintlik ’n vraag nie, maar ’n opdrag.

“Oukei. Ek sal vroeg daar na die berg se kant toe stap om proteas vir die graf te gaan pluk,” bied hy aan sonder dat sy hoef te vra. Elke maand gaan pluk hy vir haar proteas en fynbos in die berg om op sy oupa se graf te sit. Hy wonder of iemand hom ook eendag so sal mis ná sy dood. Miskien sal hy tog voor hy te oud is so ’n vrou raakloop, maar nou gaan hy eers ’n paar dae af neem om aan die ou fiets te karring en om hierdie dorp se slapende Doringrosie net so ’n bietjie te pla. Miskien kan hy die prins wees wat haar die soen gee wat haar laat wakker word. Hy sien hoeka uit na daai soen, nee soene, sommer baie.

1 thought on “Skakerings van Geluk – Madelie Human

  1. Dankie Heino en baie dankie aan almal by LAPA wat so hard werk agter die skerms om ons boeke te publiseer en te bemark.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS