Resepte só maklik, enigeen kan dit maak!
Karlien van Jaarsveld het baie talente, maar kook is nie een van hulle nie. Soos baie ander mense wil Karlien die berge invaar wanneer iemand haar vra: “Wat eet ons vanaand?”
Toe kom leefstylsjef Izelle Hoffman met 50 resepte vorendag wat só maklik, lekker en vinnig is dat selfs Karlien dit kan maak!
Die gevolg is ’n heerlike resepteboek propvol wengeregte wat jy met min moeite en eenvoudige bestanddele in ’n japtrap kan maak.
Karlien kan nie kook nie sluit alles in van familiekos en trooskos tot romantiese etes vir twee en lekkernye vir die kroos.
Of jy nou vinnig iets ná werk aan mekaar wil slaan of die Sondag grênd wil onthaal, dié boek gaan elke keer tot jou redding kom. Beïndruk jou gesin en jou gaste met hartlike huiskos wat na baie moeite lyk, maar geen moeite is nie!
Sampioensous 2 e olyfolie 2 knoffelhuisies, geskil en fyngekap 2 swart vars rissie, gekap hand vol vars roosmarynblare, gekap hand vol vars tiemieblare, gekap ½ t koljandersaad 300 g wilde sampioene 300 g sjiitake-sampioene growwe sout 2 e botter 1 rooi-ui, gekap 1 swart knoffelhuisie, fyngekap ½ t sout 1 t tiemie 120 ml sjerrie 500 ml room 50-100 ml melk 1 t mielieblom
Knoffelboontjies 2 e olyfolie 1 knoffelhuisie, fyngekap 600 g dun groenboontjies, punte afgesny 200 g vars ertjies 300 g wilde sampioene 1 e botter ¼ t rissievlokkies ½ t growwe sout 1 t growwe swartpeper 1 opgehoopte t uievlokkies afronding sap van ’n halwe suurlemoen
Filet 1 heel filet 1-2 e olyfolie 1 t growwe sout 1 t growwe swartpeper
Metode
Sampioensous: Bereiding 15 min | Gaarmaaktyd 15-20 min 1.Giet olyfolie in ’n dieppot oor warm kole. 2.Roerbraai die fyngekapte knoffel van 2 knoffelhuisies, die rissie, roosmaryn, tiemie en koljander tot geurig. Voeg die sampioene by en roer deurentyd sodat dit nie brand nie. Geur met sout en voeg die botter by sodra die sampioene van kleur begin verander. Roer tot die botter deur die sampioene geabsorbeer is. Skep uit en hou eenkant. 3.Verhit nog olyfolie en braai die ui, 1 swart knoffelhuisie, sout en tiemie. 4.Voeg die sjerrie by en roerbraai tot die ui gekaramelliseer is. Verlaag die hitte en laat dit vir ’n paar minute prut, maar nie droogkook nie. Verwyder van die hitte en laat afkoel. 5.Voeg die room by en plaas terug op ’n lae hitte totdat dit amper begin kook. Voeg die melk by en indien verkies, nog sout en sjerrie. Roer die mielieblom by en laat prut oor lae hitte tot so dik soos verlang. 6.Voeg die sampioene by en roer tot deurgemeng.
Knoffelboontjies: Bereiding 5 min | Gaarmaaktyd 10 min 1.Verhit olyfolie in ’n groot pan op die stoof. 2.Braai die knoffel tot geurig en voeg die res van die bestanddele by. 3.Roerbraai vir sowat 6 minute (die boontjies moet bros bly). 4.Giet suurlemoensap oor voor bediening.
Filet:
1.Smeer die filet oraloor met olie.
2.Braai oor warm kole tot so gaar soos verlang. Geur deurentyd met sout en peper.
3.Sny in dik skywe en seël alkant oor warm kole.
4.Verwyder van die rooster en laat rus in ’n braaibak vir 5 min.
5.Sit voor met sampioensous, groenboontjies en vars ciabatta.