Om Ma te wees in die tyd van korona…

Ons Lapa skrywers deel met ons wat Ma-wees beteken in die tyd van korona.

Dibi Breytenbach

Na twintig jaar van ouerskap het ek nogal begin dink dat ek die ma-wees-ding onder die knie het; dat ek uiteindelik daarin geslaag het om onredelike vrese ten opsigte van my kinders se oorlewingsvooruitsigte uiteindelik na die ashoop van fantasie en paranoia te verban. Tot nou. Ek voel soos ’n hoenderhen wat eendeiers uitgebroei het. Ek hardloop op en af langs die dam van sosiale disfunksionaliteit en kyk benoud hoe my kinders in die water val en swem. En hulle swem. Hulle navigeer ’n paadjie deur hierdie vreemde tye wat my stom laat van bewondering. Terwyl ek voel of ek morsdood wil neerslaan van hartstres, lewe hulle voluit – weliswaar aanlyn in baie gevalle. En dis reg so, want hulle is die generasie wat moet voortstu as ons almal morsdood neergeslaan het van hartstres.


Alta Cloete

Antoinette Pienaar vertel op RSG van haar en oom Johannes se klein ritueel met ’n mooi gedekte skinkbord wanneer sy in hierdie tyd te veel na haar ma in die “ouderhuis” verlang. Ek luister tranerig, want ek ken van verlang.

Ek ken ook van met Moedersdag erger verlang. Na my ma – lankal oorlede – altyd, ja. Maar ook na ons seuns en skoondogter (en die twee hasies) in Noorweë.

In hierdie tyd van korona het ons dit op ’n vreemde manier makliker as ander ouers wat gewoond is hulle kinders en kleinkinders is gewoonlik naby en bereikbaar. Ons verlang nie meer as gewoonlik nie, maar ons verlang dieper, want die beoogde kuier is deur die korona-stroom meegesleur. Ons verlang egter ook met dankbaarheid, want hulle is gesond en so veilig as wat mens in die tyd van korona kan wees. By hulle ontwaak die nuwe seisoen, by ons sterf die somer kleurryk, gebaai in malse sonskyn. Hulle gaan stap vryelik in woude waar die lente in sagte botsels uitbars en die smeltende sneeu die stroompies laat kabbel. Ons kyk van agter ons heinings hoe sterf die somer in goud en oranje, gebaai in malse sonskyn.

Ons ervarings is verskillend, maar ons word deur die gemeenskaplike vyand saamgesnoer.So baie dinge is vreemd, maar die liefde laat die hoop nooit vaar nie. Ook hierdie tyd sal weer verbygaan. En ons sal die mooi dinge onthou.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS