Uittreksel uit ‘Losprys’

by LAPA Uitgewers 0 Comments

Losprys deur Martin Steyn


Losprys
R 315.00

“Weet jy wat is ’n trosbom, Zap?” Adjudant Enzo Ariefdien kyk na die wit bordjie: Welcome to Republic of Hout Bay, en stuur die Nissan Tiida om die slap draai na regs.
Uit die hoek van sy oog sien hy die beweging van sersant Fikiswa Zaphalala se kop. “Nee.”

Gewoonlik ontmoet sy Afrikaans en haar Engels mekaar heel gemoedelik in die middel, maar nie altyd nie. “’n Cluster bomb.”
“Nog steeds nee.”
“Dis ’n groot bom vol van ’n klomp kleiner bommetjies. Soos wat dit nou val, maak dit in die lug oop en skiet al hierdie bommetjies uit.

Gewoonlik ontplof dit ’n entjie bokant die grond sodat dit so ’n scattereffek van verwoesting veroorsaak.”

Die pad kronkel skouerloos tussen die bome deur. Dis nogal woudagtig. Ariefdien herken dennebome en bloekoms tussen die ander onbekendes. Twee wit skoenlappers dwarrel om mekaar langs die pad, want dis mos amper lente, al lyk dit nie so met die grys lug en saamgepakte wolke nie.

“As jy nou daai prentjie in jou kop vat en jy maak elkeen van daai bommetjies vol stront, en jy laat dit oor ons twee se koppe ontplof, dan het jy die situasie waantoe ek en jy nou op pad is.”
Mure begin aan die regterkant, stene, hout, later aan die linkerkant ook soos wat hulle Houtbaai binnegaan.

Een muur lyk soos ’n huis met vensters, ’n deur en selfs ’n gewel, maar daar is geen dak of ander mure nie. Die bome bly geil, al is heelparty grys en kaal. Rankplante neem verskeie van die stamme in, die hartvormige blare blink en welig.

“So, die man wat gebel het, het geen eise gestel nie,” sê Zaphalala, “maar dit moet oor geld gaan. Anders, hoekom bel om te sê hy het die seun?”

Leave a reply

Your email address will not be published.

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>