Onderhoud met Nellie Alberts

by LAPA Uitgewers 0 Comments

1. Wat is jou kwalifikasies of in watse rigting was jy werksaam voor jy begin skryf het?

Ek het ‘n BA-graad met Afr.-Ndl as een hoofvak en ‘n honneursgraad in Engels; het vir 14 jaar Engels vir hoërskoolleerders gegee; toe ‘n naaldwerkwinkel bedryf vir 17 jaar; toe “afgetree” op 52 terwyl ek versorgingswerk in Engeland gedoen het. Ek is ‘n San-van-alles; stel in baie goed belang.

Skryf jy nou voltyds of handhaaf jy steeds ‘n balans tussen skryf en werk?
Ek “werk” nie, maar doen proeflees- en redigeerwerk vir ‘n privaatuitgewer (en enigiemand anders) en soms is ons nogal besig. Dis baie interessant, want die onderwerpe is geweldig uiteenlopend: Een maand werk jy met ‘n familiegeskiedenis, die volgende is ‘n boek oor borsvoeding of ‘n Weskusdorpie. Ek stel ook registers en bronnelyste vir boeke op. As ons ‘n boek persgereed moet kry, bly die skrywery maar agter.

 

Wat het jou daarna gedryf om jou debuutromans te skryf en beplan jy om aan te hou skryf?
Eintlik het ek begin om vir kinders te skryf; ek werk saam met ‘n skrywersgroep van Durbanville, Fynbosskrywers, en saam met hulle het ek al ‘n paar kortverhale in ‘n bundels gepubliseer gekry. Ons is juis nou besig met materiaal vir deelnemers aan eisteddfods. Ons is tans besig met ons tweede boek. Ek het ook al kontreistories gepubliseer en werk tans aan ‘n tweede. Die Noord-Kaap het die beste kontreistories; seker maar omdat ons half afgesonder is en ons eie vermaak skep.

Ek lees graag, feitlik alles in die biblioteek, maar het geen trek vir grootmensfantasiëe nie. Ek lees ook graag romans wat goed geskryf is. Ek hou nie van heldinne wat histeries oorreageer nie en toe ek eendag weer daaroor kla, het iemand gesê: “Nou hoekom skryf jy nie romans wat beter is nie?” Ek dink nie dat ek juis “beter” skryf nie, maar in my agterkop is daar tog die gedagte dat my heldin asseblief tog nie soos ‘n diva moet tekere gaan en, soos ons in die Noord-Kaap sê, so graag derms uitryg nie. (Dit beteken om emosionele goed tot in die fynste besonderhede te bekyk en bepraat – meestal onnodig.)

2. Is jy ’n dieremens? Kan jy onthou wat jou eerste troeteldier was en wat sy of haar naam was?

Ja, ek is lief vir diere, veral honde. Ek het vier skuilinghonde, 2 katte en 26 hoenders wat gereeld deur die muskeljaatkatte (en my rooi skaaphond) gevang word. As een van 8 kinders het ons nie een ‘n spesifieke troeteldier gehad nie, maar ons het werfbobbejane, mak bakoorjakkalse en wildeganse gehad. Natuurlik altyd honde en katte, hoenders en kalkoene. Die hond wat ek die beste onthou en soort van toegeëien is deur my en my boetie, was ou Bobbie, ‘n basterskaaphond. Ons het ure spandeer om vir hom trieks te leer. My eerste eie hond was ou Kollie; gekry toe ek al skoolgehou het. Ek is gek na Lassie-kolliehonde; het al 7 gehad.

3. Het jy ’n gunsteling aanhaling wat jou motiveer en inspireer in die lewe?

Ek dink verskillende aanhalings is gunstelinge op verskillende stadiums van ‘n mens se lewe. Ek is maar sinies oor beroemde mense se sogenaamde aanhalings; is nie seker of hulle self daarvolgens leef nie. Maar ‘n baie onwaarskynlike filosoof, Dolly Parton, word dikwels aangehaal as dat sy sou gesê het: “The way I see it: If you want the rainbow, you gotta put up with the rain.” Ek dink dis nogal ‘n goeie lewensbeskouing. Ek is nie die soort mens wat nuwejaarsvoornemens maak nie – ek weet ek sal nie daarby hou nie; so ek mors nie my tyd nie.

4. Wat is jou grootse vrees en het jy al van jou vrese in die lewe probeer oorkom?

Vrees verlam ‘n mens; ek kan nie juis sê dat ek die tipe is wat graag die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Ons het seker almal allerhande vrese, maar ek gaan maar net aan; het nie tyd om op ‘n hoop te gaan sit en my te verknies nie. Dinge is gewoonlik nooit so erg soos ‘n mens dink nie.

5. Wie is jou gunsteling glanspaartjie uit Hollywood of Suid-Afrika en hoekom?

Jy is seker nie ernstig met hierdie vraag nie? Ek kan nie eens vir jou ‘n glanspaartjie se name noem nie. Ek bewonder nie mense omdat hulle mooi, ryk of beroemd is nie; daar is soveel mense wat net deur van dag tot dag aan die lewe te bly, ‘n mens se bewondering moet afdwing. Vir my is dit die gewone mense wat nog tyd en emosie het om vir ander te gee, wat bewondering verdien.

Leave a reply

Your email address will not be published.

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>