Alta Cloete se blog oor haar reis na Australië

by LAPA Uitgewers 0 Comments
Alta Cloete se blog oor haar reis na Australië

Ek is nie ’n besonder goeie reisiger nie. Die lang vlugte kry my op allerhande maniere onder. Ek raak ongelooflik angstig op lughawens, selfs al verloop alles seepglad. (Doeanebeamptes word nou eenmaal nie vir hulle sosiale vaardighede aangestel nie!) Die proses om betyds ’n visum te kry, is elke keer vir my ’n marteling. (Nee, dis nie heeltemal so eenvoudig soos om net betyds aansoek te doen nie.)

Maar ek is ook nie een om geleenthede weg te gooi nie. Toe die kans dus in 2017 kom om saam met my beter helfte Australië toe te gaan, moes ek mooi dink.

Ja, ek was al tevore daar. Ja, ek dink dis ’n betreklik vervelige land. (Veilig is gelyk aan vervelig, sê die wyse beter helfte.) En tog, en tog … Op die ou end was dit ’n wonderlike en voorspoedige reis. (Behalwe nou vir die tand. Maar dis ’n ander storie.) “Vervelige” Australië is immers propvol vriendelike mense en asemrowende landskappe.
Die beter helfte se kongres vind in Townsville in Queensland plaas. Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n plek nie. Ek ontdek ’n lieflike kusdorp met die mooiste strandfront. Dis nog vakansie en man en muis (en hond) stap saans op die pragtige wandelpaaie langs die see.

Nêrens sien jy ’n papiertjie lê nie. Nêrens hardloop ‘n ongedissiplineerde hond los rond nie. Om nie eens te praat van die gebrek aan “slagysters” nie!
Boonop lewer Townsville ’n leser van my boeke op. Hoe gelukkig kan ’n skrywer wees? Dankie tog vir Facebook!
In die “wet tropics” in die omgewing van Cairns dwaal ons in oeroue woude rond en verwonder ons aan watervalle wat in helder poele val. Dikwels is ons die enigste mense daar.

In Canberra is dit koud en die mooi stad lyk maar vaal. So ietwat soos ’n baie koue Bloemfontein. Maar saans hop die konyntjies (Ja, ek weet hulle is eintlik ‘n plaag … ) langs die meer in die skemer rond. En ’n skrikkerige Suid-Afrikaner kan salig teen ’n boomstam sit en droom, sonder enige bedreiging.
Ons bereik nie die Snowy Mountains nie, want die veiligheidsbewuste Australiërs se streng reëls keer ons voor lánk voor daar enige gevaar van vasval in die sneeu bestaan.

Stilletjies begin Emmerentia en Brent se storie vorm aanneem. Sy is nog broos na haar herstel van borskanker. Hy sukkel steeds om sy jeugtrauma te verwerk. Hy is van logika aanmekaargesit, sy is nie skaam vir emosie nie. Maar in ’n groen, nat bos in Tasmanië reik hulle na mekaar …
Tasmanië is landeliker as die vasteland, hoofsaaklik boerderygebied. En woude, die wonderlikste woude. Hier is ’n bloekomboom nie sommer net ’n bloekomboom nie. Hier is daar talle soorte, stil gedaantes in die mis, getuies van die mens se doen en late, ewig, misterieus. En die reën, o die reën. Soos manna uit die hemel vir ’n Bolander wat uit die droogte kom.

Maar selfs hier word jy gemaan om jou stort gou-gou af te handel. Selfs hier kreun Moeder Aarde onder die las wat ons op haar plaas.
Wave Rock is ’n indrukwekkende formasie, tussen niks en nêrens. Onverwags doem dit voor jou op. En jy word bewus van die eeue wat verby is, die eeue wat nog sal kom. Net jy, die spikkeltjie, sal spoedig verdwyn.
In Albany word die tand herstel. Ek kan weer onbevange glimlag.

Perth onthou ek as groen en blou en oop. En ek leer hoe waterslim hulle stadsvaders lankal is.
Ek slaap amper ’n naweek om toe ons tuiskom. En toe kan Emmerentia en Brent se storie voltooi word. Logika van die liefde is my eerste SuperRomanza en is nou beskikbaar by: https://lapa.co.za/logika-van-die-liefde

Leave a reply

Your email address will not be published.

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>