5 Dinge wat ek mis van Suid-Afrika

by LAPA Uitgewers 0 Comments

5 Dinge wat ek mis van Suid-Afrika deur Alma Carstens 

Wanneer ’n mens in ’n ander land bly, raak jy geleidelik gewoond aan die dinge om jou. Aanvanklik is alles vreemd, maar mettertyd raak die kos, kultuur en gewoontes van jou nuwe land die norm. Dit beteken nie dat mens nie meer na jou eie land verlang nie, dis maar net dat die gemis effens afneem met die tyd.  En dis eers na ’n besoek aan Suid-Afrika dat mens weer intens bewus word van die gemis.

 

Die eerste tien jaar nadat ons uit Suid-Afrika verhuis het, het ons in Afrika lande gewoon. Daar het ons al daaraan gewoond geraak om sonder sekere Suid-Afrikaanse alledaagshede klaar te kom.

 

Ons was steeds naby genoeg aan die huis om sekere produkte en lekkernye te bekom en die gemis was nie so groot nie, tot ons na Thailand toe getrek het en alles op die rakke meteens vir ons vreemd was.  En wat dit erger gemaak het, is dat alles in Thai is en mens aan die begin maar moes raai wat jy koop en hoop vir die beste.

 

Soos ek op ons onlangse besoek aan Suid-Afrika weereens agtergekom het, is daar sekere dinge waarna ek altyd sal hunker. Ek is ’n familievaste persoon en hoewel ek altyd bewus is van die verlange, voel dit altyd erger na ’n kuier in SA. Na ’n maand in my eie land besef ek opnuut hoe lekker dit is om my familie gereeld te kan sien.

 

 

 

Ons het ’n pragtige uitsig oor die see, Tafelberg en Robbeneiland vanuit ons vakansiewoonstel in Bloubergstrand. Net iemand wat so lief is vir die Kaap soos ek sal verstaan wat daardie prentjie aan ’n mens se hart doen. Ek verlang baie na die uitsig oor pragtige ou Tafelberg, vir my is die berg so Suid-Afrikaans soos braaivleis en Afrikaans.

 

Natuurlik is braaivleis ’n groot gemis hier in die vreemde. In ons woonstelgebou in Bangkok is dit verbode om vuur te maak of te braai. Daarom probeer ons altyd ’n vleisie op die kole gooi wanneer ons na een van die eilande toe gaan en daar beskikbare fasiliteite is. En hoewel peperduur ingevoerde New Zealandskaap baie lekker is, kom niks naby die smaak van ’n Karoo-tjoppie nie.

 

As ’n wynliefhebber is ek altyd op die uitkyk na ons eie land se wyne. Dis wel hier in Thailand beskikbaar, maar buitensporig duur. Dus is een van die dinge waarna ons baie uitsien wanneer ons Suid-Afrika besoek om heerlike bekostigbare wyn op eie bodem te kan drink saam met goeie vriende en familie.

 

In die verlede was boerewors, biltong en droëwors altyd deel van die dinge wat ek mis, maar gelukkig is daar ’n Suid-Afrikaner in Pattaya wat hom baie goed van sy taak kwyt met die maak daarvan. Suid-Afrika se geurige speserye is dus onder die top-5 dinge wat ek mis. Na ’n besoek aan ons land keer ons altyd terug met vele houertjies daarvan in ons bagasie, want niks kan kers vashou by Robertson se braaivleis-en hoenderspeserye nie.

Leave a reply

Your email address will not be published.

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>