LAPA corporate

Maart 2019

Beste vriend van LAPA

’n Puik 2018

LAPA was in 2018 weer die uitgewery wat die meeste Afrikaanse boeke verkoop het. Boonop het ons ons Afrikaanse markaandeel nog verder vergroot. Een uit elke vier Afrikaanse boeke wat in 2018 gekoop is, is volgens die gesaghebbende navorsingsmaatskappy Nielsen deur LAPA uitgegee. Ons is ontsettend trots hierop en dankbaar dat ons skrywers dit moontlik maak.

Internasionale suksesse

Ons het in 2018 oorsese vertalingsregte vir boeke van Jaco Jacobs, Irma Joubert en Martin Steyn verkoop. Ons boeke was by die Londen-boekebeurs, die Frankfurt-boekebeurs en by boekfeeste in die VSA. Vanjaar doen ons dit weer en neem ons boeke ook Italië toe!

Tintelend Afrikaans

AfriVriendelik het LAPA pas vir die tweede agtereenvolgende jaar met ’n Tinteltong-prys bekroon as die uitgewer wat, volgens ’n openbare peiling, Afrikaans die beste bevorder.

Ons LAPA het plek vir ander

In 2018 het ons uitgebrei om die LAPA-stal meer inklusief te maak. Hoewel ons aanhou belê in ons kernsaak, Afrikaanse boeke, het ons ook kleiner Suid-Afrikaanse uitgewerye aan boord gekry en help hulle met verspreiding en bemarking. Nog ’n opwindende verwikkeling is ons nuwe drukname: Wenkbrou en Eyebrow gaan die grense van konvensie toets en uitdaag!

Opvoedkunde bly vir ons uiters belangrik en ons het in 2018 die baanbrekerswebruimte https://klaskameraad.co.za/ bekendgestel. Gaan kyk gerus hoe dié lekker een-stop-nutsmiddel ouers en onderwysers se lewe verander! Ons nuwe handleiding vir Afrikaans as eerste addisionele taal is ook nou beskikbaar: Afrikaans+ Everything you need to obtain top marks.

Kompetisies

LAPA se gewilde Jeugverhaalkompetisie vir 2019/2020 is weer aan die gang. Prysgeld van R50 000 is op die spel! Die 2017-wenner, Jan Vermeulen, se Oopmond verskyn later vanjaar. Die een naaswenner, Zelda Bezuidenhout, se jeugroman As mens geluk kon proe het reeds verskyn en die ander naaswenner, Die sewentiende veer deur, Nanette van Rooyen, verskyn ook later vanjaar.

Die 2015-wenner, Jan Vermeulen, se tienerroman Asem word in 2020 deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) voorgeskryf vir Graad 12 Eerste Addisionele Taal.

LAPA is ook trots op die kompetisie “Die liefde in jóú se Afrikaans” met prysgeld van R35 000. Dié kompetisie omhels variëteite van Afrikaans wat tot nou toe te min ontgin is. Stuur gerus ’n e-pos na kompetisie@lapa.co.za vir meer inligting.

Regsake

Die Wetsontwerp op Kopiereg wat tans voor die parlement dien, bly ’n bron van kommer.

Hierdie artikel, deur die internasionale kenner Carlo Scollo Lavizzari gee ’n goeie ontleding van die kwessie:

https://www.businesslive.co.za/bd/opinion/2019-03-13-copyright-amendment-bill-is-vital-for-sa-to-be-part-of-21st-century/

LAPA werk nou saam met die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging (PASA) om hierdie wetsontwerp teen te staan. Ons is ook via instansies soos PEN Afrikaans en ANFASA in gesprek met die regering.

Lekker skryf en lekker lees

Mag 2019 vir almal ’n genotvolle woordjaar wees!

Sylvia De Wet

Uitvoerende Hoof



SOSIALE MEDIA

VOLG ONS