Kom skryf jóú storie!

Skryfterapie is ’n bewese manier om verlies en trauma te verwerk – ongeag die aard daarvan, en die beste nuus: ongeag jou skryfvermoë. Kom, maak ’n begin en begin om jou eie verhaal te skryf.

Auth unexpected return: Unauthorized

Kom ervaar die verlossende krag van skryfterapie in ’n werkwinkel aangebied deur Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, gebaseer op haar pas verskene boek Om tot verhaal te kom (Lapa Uitgewers).
Die lewe gebeur met elkeen van ons en laat sy letsels. Egskeiding, siekte, misdaad, dood – ons almal ervaar trauma wat jou laat met die vraag: Hóé gaan ek voort? Die antwoord lê dalk in jouself: Skryfterapie. En dis waarmee hierdie werkwinkel jou wil help: om te begin om daardie deur na jouself oop te sluit deur daaroor te skryf.
Skryfterapie is ’n bewese manier om verlies en trauma te verwerk – ongeag die aard daarvan, en die beste nuus: ongeag jou skryfvermoë. Kom, maak ’n begin en begin om jou eie verhaal te skryf. Dis dalk net die regte tyd dat jy die dapperste reis van alle reise aanpak: die reis na jouself. Jy kan dit op soveel verskillende maniere doen: Jou memoire op jou rekenaar skryf, dagboek hou op papier, ’n blog begin, dig, rym of sommer net krabbel. Die eindproduk is dalk net vir jou eie oë bedoel, of dalk wil jy dit met die wêreld deel. Professor Rabe se Om tot verhaal te kom is ’n skryfterapiegids propvol praktiese skryfwenke en inspirasie uit ander se werk. Die werkwinkel, in Afrikaans, sal jou help met wenke oor hoe om “tot verhaal te kom”.
Die joernalis en TV- en radiopersoonlikheid Lizma van Zyl het van die boek gesê: “’n Waardevolle boek wat die leser emosioneel bemagtig en met praktiese wenke toerus om hul pad na ’n nuwe lewe oop te skryf. Hierdie boek strek veel verder as net ’n roetekaart – dis ’n lewenslange reismaat.”

Auth unexpected return: Unauthorized

As jy dalk nog inspirasie soek, hier is ’n aanhaling van Nobel-pryswenner Toni Morrison: “As daar ’n boek is wat jy regtig wil lees, maar dis nog nie geskryf nie, dan moet jy dit skryf.”
Die skryfterapie-werkwinkel word ten bate van die Ithemba Stigting gehou, en word aangebied in die Adam Small-Teaterkompleks se Seminaarkamer, hoek van Victoria- en Andringastraat, Stellenbosch (voorheen die HB Thom-teater). Dis op Saterdag, 4 Mei, van 11:00 tot 12:30, met registrasie wat om 10:30 begin. Die koste is R225, en dit sluit ’n koffie/tee en muffin by aankoms in, asook ’n aantekeningboekie en pen. Bespreek aanlyn by https://www.quicket.co.za/events/70250-kom-skryf-j-storie/. Getekende eksemplare van die boek sal ook teen afslag beskikbaar wees. Vir meer inligting kan jy Ithemba kontak by ithembafoundation@mweb.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS