Kanker schmanker – Madelein Rust

As mens in die chemoterapiestoel sit terwyl die gif by jou are inloop, wonder jy wie de ongeluk hierdie “almal” nou eintlik is. Daar is selde ’n bevredigende antwoord.

1 

Die begin 

Die oorlewingstog van ‘n dapper vrou. “ ʼn Kale vlakte waar my regterbors eens was. Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding. Kanker schmanker, besluit ek. Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.” In hierdie aangrypende boek deel die bekende spanningsverhaalskrywer Madelein Rust die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ʼn brutaal eerlike vertelling wat haar belewenis van die siekte met patos en humor uitbeeld. Lesers verkry ʼn eiesoortige blik op die fisieke ervarings van borskankerstryders sowel as die ewig veranderende binnewêreld van dié wat teen die siekte veg. Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan. Dit is ʼn boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil en laat lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ʼn stryd van enige aard stry.

Vir my het dit met pyn begin.

Dis juis daardie pyn wat, ironies genoeg, gemaak het dat ek heelwat tyd verspeel het voordat ek uiteindelik ’n afspraak by my huisdokter gemaak het. Ek het ook ál die ou storietjies oor borskanker gehoor. En summier geglo, soos wat mens maar maak. Onder andere die storie dat kwaadaardige gewasse in mens se bors nie pynlik is nie. Miskien moet mens nie alles so geredelik glo nie.

Stories.

Ongegrond.

Siste is seer. Kwaadaardige gewasse is nie.

Almal sê so.

As mens in die chemoterapiestoel sit terwyl die gif by jou are inloop, wonder jy wie de ongeluk hierdie “almal” nou eintlik is. Daar is selde ’n bevredigende antwoord.

Mens se kop kan jou vyand word in die reis met kanker. Vele mense speel daardie futiele as-ek-maar-net-speletjie as iets katastrofies hulle tref. Ek het nogal heelwat rede gehad om dit te doen, sou ek wou. As-ek-maar-net dadelik plan gemaak het toe ek die pyn voel. As-ek-maar-net geluister het toe my man (en my kollegas en my familie en my vriende) vir my sê ek moet by ’n dokter uitkom. As-ek-maar-net nie so hardkoppig was nie. As-ek-maar-net nie altyd my werk eerste gestel het nie. As-ek-maar-net gereeld vir ’n mammogram gegaan het. Mens kan vrek baie van jou tyd mors en jouself toetentaal mal maak met daardie speletjie.

Maar dis nie waarom ek nie saamspeel nie.

Volgens my genoot in die eg, Jaun, is ek bietjie van ’n blommekind. Ek foeter deur die lewe met ’n afwesige glimlag op my gesig, is meesal onbekwaam as dit kom by realiteit, ek dink stories uit, hou mense dop sodat ek hulle as karakters in my stories kan gebruik en gee vir alles wat voorkom name. Daarby glo ek vas dat ek my op ’n bootjie bevind wat deur die Groot Stuurman gestuur word. My kinders, Tanya en Nico, raak de vieste in as ek vir hulle sê dat alles met ’n rede gebeur en dat alles ’n doel het.

Ek hoop dié uitbroeisels van my het al in die stilligheid begin wens dat hulle ook daardie bevryding kon smaak. Dit maak mens rustig om die hele tyd te weet jy is in bekwame hande. Hulle is nog jonk, in hul twintigerjare, so hulle dink nog hulle is veronderstel om in beheer te wees. Hulle sal ook eendag agterkom waaroor dinge gaan. Dit het my seker omtrent 40 jaar van bloedsweet, angstigheid en futiele spartel-teen-die-lewe gekos voordat ek tot die besef gekom het dat mens doodeenvoudig beheer moet oorgee.

Daar is uit elke omstandigheid iets te leer en soms word mens iets gegee sodat jý die een kan wees wat vir iemand anders iets leer. Alles gaan tog oor groei, nie waar nie?

Buitendien, dis salig, man. Dis salig om oor te gee.

Maar al gee mens beheer oor is daar tog ’n lewensplan iewers in jou agterkop. Ek dink die mens is so bedraad. ’n Mastektomie, chemoterapie en bestraling was beslis nie deel van my plan nie. Ek het, seker soos die meeste van ons, gedink dat borskanker iets vreesliks is wat, dank Vader, net met ander mense gebeur.

Toe ek daardie nag in my sewe-en-veertigste lewensjaar in Kaapstad wakker word van die verskriklikste pyn van my lewe, was dit die begin van ’n roete wat my op lewensveranderende paaie geneem het.

Weet jy wat?

Ek sal dit alles weer doen.

Ek het nog nooit in my hele lewe soveel geleer nie, nog nooit vantevore soveel gegroei in geloof en vreugde en waardering vir die onoorwinlike gees van die mens soos gedurende my kankerreis nie.

As my bootjie ooit weer in daardie rigting moet vaar, gaan ek met ’n lekker hart saam. Daar sal wel ’n goeie rede wees.

2 

Die kennismaking 

Die oorlewingstog van ‘n dapper vrou. “ ʼn Kale vlakte waar my regterbors eens was. Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding. Kanker schmanker, besluit ek. Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.” In hierdie aangrypende boek deel die bekende spanningsverhaalskrywer Madelein Rust die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ʼn brutaal eerlike vertelling wat haar belewenis van die siekte met patos en humor uitbeeld. Lesers verkry ʼn eiesoortige blik op die fisieke ervarings van borskankerstryders sowel as die ewig veranderende binnewêreld van dié wat teen die siekte veg. Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan. Dit is ʼn boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil en laat lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ʼn stryd van enige aard stry.

Dit is ’n warm nag in Maart 2015 toe die pyn my wakker maak. Ons is in my vriendin se huis in Brackenfell. Jaun lê ritmies langs my en snork, heeltemal tevrede met die wêreld.

Ons het twee dae se vakansie wat voorlê voordat ek by die Woordfees in Stellenbosch ’n praatjie oor my nuutste boek moet gaan lewer, so tot op die oomblik waarop daardie pyn my wakker geruk het, was ek self heel tevrede met die lewe.

Brutale steekpyne laat my regop ruk in die bed. Nou kyk, ek beskou myself as ’n stoere boeredogter. Kaalvoet-oor-die-Drakensberge-materiaal. Ek is nie bang vir pyn nie, het seer sekerlik ’n vreeslike hoë pyndrumpel, het ek myself nog altyd vertel.

Maar hierdie is pyn soos wat ek nog nooit ervaar het nie.

Ek gryp my bors vas. Dit is vuurwarm en die sist waarmee ek nou al vriende gemaak het, is groter as ooit. Die langwerpige ding sit reg onder my areola op my regterbors, omtrent die lengte van my wysvinger en twee vingers breed. Ek probeer ontspan. Probeer om in verskillende posisies te lê. Die pyn bly ondraaglik.

Jaun word wakker van die gerondrollery en hy spring onmiddellik aan die werk om dinge vir my beter te maak. Deur die slaap, maar dadelik besorg en bereidwillig om te help. In die dae, maande en jare wat kom, sou ek leer om Jaun-die-versorger meer te waardeer as wat mens ooit in woorde kan omskryf. Ek spartel die nag slapeloos deur, byt op my tande teen die pyn en probeer op die golwe daarvan ry. Die koel, nat waslap wat Jaun daarop sit, is elke kort-kort drooggebak deur die hitte van my bors. ’n Pak bevrore ertjies vererger net die pyn.

Teen die oggend bid ek ’n apteek oop. Die pynmedikasie wat my vriendin vir my gegee het, is nutteloos. Ek het ernstige vertwyfelinge oor my pyndrumpel en ek wonder of ek die soort vrou is wat die Drakensberge selfs met stapstewels sou kon oor. Dalk nie eens met ’n kabelkarretjie nie.

Toe die eerste apteek oopmaak, staan ek trippelend voor die deur. Die sterkste pyngoeters wat jy het, beveel ek die jongeling agter die toonbank. My boobie is bleddie seer, verduidelik ek onnodig. My sist, sien? Hy gehoorsaam vinnig, moontlik ietwat verleë oor die vreemde tante wat die boobie-woord sommer net so rondslinger. Met die instapslag. Probeer my dalk uit sy apteek verwyder voordat ek ander intieme dinge kwytraak. Op sy nugter maag, die arme kind.

Hy is gelukkig dat ek nie lus het om praatjies te maak nie. Ek kan hoofstukke praat oor my siste. Ek het ’n erg indrukwekkende versameling van die goed. Jare en jare al kom hulle met my saam. Sommiges is groot, soos die een onder my areola, ander is klein. Soms is hulle seer, soms nie. Dis hormonaal, het die huisdokter my vertel. Mens kan dit aspireer, sommer daar in die spreekkamer, maar die vog sal maar net weer terugkom en die seer daarmee saam. Nou kyk, ek glo vas daaraan dat mens nie sommer net naalde in jou lyf laat druk as jy dit kan verhelp nie. Dis soms seer en altyd grillerig. En hierdie soort naaldindrukkery was myns insiens verhelpbaar.

Maar hierdie een is al my ander siste se grootboetie. Sonder enige gewetensbesware verander ek my standpunt oor naalde. Ek sweer dat ek terug in Johannesburg teen die spoed van lig by die dokter sal uitkom sodat hy ’n naald by die sist kan indruk en die vog kan uitsuig. Dit sal omtrent ’n emmer vol wees, vertel ek myself.

Die aptekertjie se pyngoeters is nogal heel aanvaarbaar. Ek en Jaun doen die normale toeriste-goeters daar in die Kaap en so nou en dan is daar ’n kwaai kramp in my bors. Ek moet erken dat ek dit so ietwat oordoen het met die pynmedikasie dwarsdeur daardie kuiertjie. Dis min genoeg dat ons in die Kaap kom en ek was nie van plan om ’n seer bors tussen my en die vreugdes van die Moederstad te laat staan nie.

Intussen gryp ek my foon en raadpleeg dokter Google. Miskien is dit nie die sist nie. Dis darem heeltemal te seer en die pyn het nog nooit vantevore gepaardgegaan met hierdie soort hitte nie. Miskien is een van my melkkliere ontsteek. Jip, die simptome lyk min of meer reg: swelling, hitte, pyn. Ek is tevrede met die selfdiagnose.

Nooit, nóóit het ek gedink aan kanker nie.

Nie eens een keer nie.

Noudat ek bietjie meer weet, wonder ek of die tumor daardie nag in Kaapstad begin het om deur my melkklier te vreet sodat dit kon begin versprei na my limfkliere.

Miskien was dít die rede vir die pyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS