Hans du Plessis ATKV|Litnet-Skrywersalbum

Hans du Plessis is bekend as navorser, akademikus, digter, dramaturg, rubriek-, roman- en jeugboekskrywer

Sêgoed van Hans du Plessis

“Ek het vir prof ? storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan om hom in te lig dat hy haar familiegeskiedenis gaan skryf. Die ellendige saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop wat byna reeds uitgewerk is, begin. 

Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe. Maar die hoop bly, die hoop bly ... En alles wat goed en sleg is, word soos die aarde uitgewerk onder dié wat volhard. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees. 

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een. En uiteindelik keer dit terug na waar dit begin het. Só word die verlede oopgebreek om in die hede lig vir die liefde te maak. 

Toe skryf die professor oor Katryn se ma, haar ouma en oumagrootjie, sonder dat hy of sy kon voorsien dat hulle self deel van dié saga van dooie drome, armoede en vernedering sou word. Selfs die liefde is onvoorspelbaar op ? delwery tussen die mielielande van die wispelturige Hoëveld. Durf ons droom van ’n beter lewe waarin minagting nie langer verduur hoef te word nie?

Hans du Plessis is ’n geliefde naam in die Afrikaanse letterkunde. Sy historiese romans staan stewig in die hede gewortel en hy is bekend vir die bedrieglike eenvoud in sy verhale wat dieper waarhede dra – hy ken die mense oor wie hy skryf en dié waarvoor hy skryf. Du Plessis is ook bekend as digter, dramaturg en taalkundige. 

“Afrikaans gaan nêrens anders heen as waarheen ons dit vat nie. Ons moet produkte skep wat só goed is dat mense agter ons aanloop.” (Beeld, 30 September 2002)

“Afrikaans moet in Afrika bestaan, en hy doen dit al eeue. Die vraag is net of sy kundiges dit wil weet – ás hulle natuurlik vir die taal Afrikaans net soveel omgee as wat hulle vir die vak Afrikaans omgee …” (Beeld, 23 April 1997)

“My filosofie by die skryfskool – en dis deels hoekom ek die skryfskool gedoen het – is dat daar net een manier is om Afrikaans in stand te hou: Maak hom onmisbaar. En daarmee bedoel ek: Skryf goed, doen goeie navorsing, doen goeie goed – en práát hom net eenvoudig met mekaar. Ek glo vas jy kan nie iemand leer skryf nie. Ek kan nie talente gee nie, ek het te min, ek kan nie nog weggee nie!” (Beeld, 13 November 2011)

’n Dekade of wat ná die Groot Trek word ’n vrou voor die hof gedaag vir veelmannery en al die onnoembare sondes wat daaruit kan voortspruit. Of ’n misdaad en sonde dieselfde saak is, is nie alte duidelik nie, maar die hof het tyd, stompe om op te sit, en iemand wat kan skryf. En getuies. Dit sukkel, want die verrigtinge word onderbreek deur bobbejane, voëls en vlakvarke wat ’n lawaai opskop wanneer nodig en onnodig.

Iedereen veg om ’n eie waardigheid en waarheid, net die regverdiges nie; hulle is nie seker wat hier bewys moet word nie. En wanneer die waarheid openbaar word, is dit nie die waarheid wat mens verwag het nie. Uit al hierdie dinge probeer dominee Johannes sin maak van wat die liefde is. Lê die liefde in al sy vorme nie dalk iewers tussen daardie twee klippe wat Moses van die berg af teruggebring het nie?

Hy skryf in baie variëteite van Afrikaans. Hoe beleef hy dit verskillend, hoe is dit vir hom dieselfde, die Afrikaans in al sy gedaantes? En hy skryf ook prosa sowel as poësie. Wat is vir hom die natuurlikste? “Seker omdat ek in my siel ’n taalkundige is en uit direkte navorsing weet dat daar net een Afrikaans met baie tonge is, is dit vir my seker amper natuurlik om die taal in die boek by die mens in die boek te sit, want hierdie deeltjies is almal krummels van dieselfde korsie. Lekkerste genre? Die prosa, want ek voel dit sonder om dit te bedink. My genade is maar my woorde. Of is my woorde my genade?” (LitNet)

Om tussen genres te wissel, is nie vir Du Plessis ’n wilsbesluit nie: “Die stof wat hulle by my kom aanmeld, besluit daaroor. Ek kan net een ding op ’n slag doen, en daarom is dit nie regtig wissel nie. Skryf is vir skryf, en dit maak nie vir my saak in watter genre nie; ek probeer goed skryf. Daar is vir my net twee soorte skryf: goed skryf of sleg skryf. Daarom is daar kruisbestuiwing: ’n goeie natuurbeskrywing in die prosa moet elemente van die poësie hê, soos ritme; en dialoog in die roman is die dialoog wat op ’n verhoog moet kan werk.” (Vrouekeur, 22 Julie 2016)

Lees meer op LitNet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS