Fiksie vir die vrou – deur Ilse Salzwedel

Vrouefiksie is wêreldwyd die topverkoper-genre, en van “damsels in distress” is daar lankal nie meer sprake nie. Kristel Loots, Madelie Human en Frenette van Wyk vertel hoe hulle die genre – en die rol daarvan – sien. Deur Ilse Salzwedel

KOOP HIER | BUY HERE
ʼn Feministiese roman vir konvensionele vroue Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding. Nellie is pas 50, ʼn konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing. Maar dan ondergaan sy ʼn histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ʼn vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ʼn ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as gegewe aanvaar het te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal. Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef. “Daar bestaan by my geen twyfel dat Kantelpunt nog meer suksesvol as Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva sal wees nie. Dis die soort verhaal wat elke Afrikaanssprekende behoort te lees – vroue en mans.” – Chanette Paul

Dis geen verrassing om te hoor dat vroue wêreldwyd die meeste boeke koop nie. Of dat genres wat tradisioneel deur vroue gelees word, die grootste verkopers is nie. En die syfers bevestig dit. In die VSA is romanse en erotika die topverkopers. In 2016 het dit ‘n yslike $1.44 miljard by die kasregister verdien, byna dubbeld soveel as misdaad- en spanningsfiksie. Nog meer verstommend is dat daar 30 miljoen liefdesverhaal-lesers in die VSA is – die meeste daarvan vroue. Maar vrouefiksie is beslis meer as net ou red meisie.

Wat presies is vrouefiksie? Dit word gedefinieer as fiksie vir vroue deur vroue, en bestaan uit ’n hele aantal subgenres, soos liefdesromans, chick lit, verhoudingsromans, spanningsromanses, historiese romans en wat in Engels bekend staan as “sweet spot fiction”.

Die fokus in vrouefiksie val altyd op kwessies en ervarings waarby die meeste vroue aanklank sal vind, byvoorbeeld verhoudings. Dit hoef nie altyd ’n liefdesverhouding te wees nie, maar kan ook familieverhoudings wees, of selfs werksverhoudings.

KOOP HIER | BUY HERE
Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ʼn ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ʼn winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ʼn sterwende vrou en ʼn kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ʼn waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ʼn man sy taaibosspies deur ʼn vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.” Vywervrou: Lira is die eerste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Die tweede titel is Vywervrou: Mirre en die derde: Vywervrou: Corali.

Nog ’n kenmerk van vrouefiksie is die sterk vroulike protagonis (hoofkarakter) en meestal vroulike sleutelkarakters. In die meeste soorte vrouefiksie moet die hoofkarakter ook een of ander kwessie of interne worsteling te bowe kom. Maar al verskil die sub-genres van vrouefiksie, is die hoofkarakters almal moderne, sterk vroue wat hul drome najaag, of dit nou in hul loopbane of liefdeslewe is.

Die vroue self lyk ook heel anders as die heldinne uit die liefdesverhale wat ons as tieners gelees het. Uitgewers wêreldwyd het besef hul lesers kan nie meer identifiseer met hulpelose wimper-fladderende meisietjies nie. Die tyd toe lesers tevrede was met jong, naïewe en onseker vroulike hoofkarakters (wat ook dikwels bedorwe brokkies was), is lankal verby. Deesdae se vroue is sterk, slim, dikwels snaaks en beslis meer kieskeurig oor wie uiteindelik hul liefde werd is. Hulle kan hul man staan en het sterk menings (wat hulle nie huiwer om uit te spreek nie). In ’n neutedop:  moderne vrouefiksie reflekteer die wêreld waarin ons leef, en vroulike hoofkarakters begeer wat gewone vroue begeer.

KOOP HIER | BUY HERE
Neil keer terug van Australië om totsiens te sê aan sy sterwende pa en om sy ma te ondersteun maar sy sterf onverwags. Dit is net sy pa sy neef se tienerdogter en ñ familievriend wat op hom wag.

Volgens die Amerikaanse skrywer en joernalis Jessica Luther het die klemverskuiwing na sterker vroulike hoofkarakters in die 1980’s en 1990’s gebeur. In ‘n artikel in The Atlantic in Maart 2013 het Luther geskryf dat hedendaagse vroulike skrywers die voordele geniet wat deur die feministebeweging teweeg gebring is, soos dat hul vroulike hoofkarakters  – nes vroue in die regte lewe – die voorwaardes van langtermynverhoudings beding eerder as om in  ’n wanhopige hopie te sit en wag om deur ’n prins gered te word. Vandag se hoofkarakters word ook deur mans as hul gelykes behandel en kan hul seksualiteit uitleef sonder dat iemand ’n wenkbrou lig. Klink dit soos bevryde vroue? Beslis! Soos Maya Rodale, ʼn bekroonde New Yorkse skrywer van liefdesromans dit stel: “Romance novels may actually be the most pro-feminist books you’re not reading. Romance novels – unlike most other literature – always put women in a starring role, reward their rule-breaking, and guarantee their sexual pleasure.” Nog ’n Amerikaanse skrywer, Cecilia Grant, som dit so op: “Romance is one of the few places where a woman is a subject in sex, rather than an object.”

Vrouefiksie speel steeds dieselfde rol as wat dit desjare vir ons ma’s gespeel het: dit help lesers om te ontspan én te ontsnap van hul alledaagse bestaan. Die terapeutiese waarde daarvan moet ook nie onderskat word nie – dit kan lesers bemagtig, veral wanneer sterk temas soos mishandeling en verhoudingskwessies onder die loep kom.

KOOP HIER | BUY HERE
’n Deerniswekkende verhaal van twee vroue wat elkeen op hul eie manier weer hul voete vind Wanneer Bea Klinge as jong boervrou op Leliepan aan die soom van die Namib aankom, glo sy dat sy hier vir haar, Kurt en hul kinders ’n oase van liefde sal kan skep. Ná ’n skokontdekking meer as vier dekades later kry Bea ’n miniberoerte en beland in ’n koma in die hospitaal. Haar herstel bring Bea voor nuwe keuses te staan. Sy besef sy het haar vier dogters elkeen op ’n manier gefaal deur by Kurt te staan al het hy hulle hoe verontreg. Moet sy oop kaarte met hulle speel oor die donker geheim wat haar vasgevang gehou het in ’n liefdelose huwelik met ’n man wat haar soos ’n onderdaan behandel? Bowenal moet Bea besluit of sy die kans op geluk waarop sy destyds haar rug gekeer het gaan aangryp en vir een keer in haar lewe gaan doen wat reg is vir haar en nie vir ander nie. Nel, haar rebelse laatlam, gaan soek haar heil in Johannesburg. Hier word sy as sukkelende aktrise met die donker kant van die vermaaklikheidsbedryf gekonfronteer. Sy raak betrokke in ’n toksiese verhouding met ’n invloedryke filmvervaardiger Buks Bothma en word die slagoffer van date-rape. Nel ontdek ook die skokkende waarheid omtrent haar herkoms. Lex le Roux, ’n medeakteur en donkieboer bied haar ’n kontrak aan om die gesig te wees van sy velsorgprodukte wat uit donkiemelk vervaardig word. Nel gryp die geleentheid met albei hande aan. Ná die trauma waardeur Nel is, het sy tyd nodig om heel te word. Sy besluit om haar droom na te volg en ’n dramakursus in New York te gaan volg. Mettertyd ervaar sy die vreugde om haar pad boontoe te werk en nie te slaap nie. Sy kry dit reg om aan haarself te bewys dat Nel Klinge sonder hulp sukses kan behaal. Nel besef ook dat haar genesingsproses voltooi is en dat sy reg is vir meer as ’n vriendskapsverhouding met Lex.

Wanneer mens oor die hoofkarakters in vrouefiksie praat, moet jy noodwendig ook na die lesers verwys. Cliffordene Norton, ’n voormalige vrouefiksie-uitgewer van LAPA, het in ’n blog oor romantiese fiksie geskryf dat vrouefiksielesers lankal nie meer “treurige oujongnooiens is wat alle hoop op liefde begrawe het en nou maar ’n genadige einde met nege katte inwag nie.” Nes dié genre se heldinne is die lesers ook sterk vroue “want die heldin is die leser se alter ego.” Volgens Norton is die romanse-genre  “onlosmaaklik verbind aan die evolusie van die vrouebeweging”.

“Vroue is weer vroue sonder om hulle identiteit prys te gee en te probeer om soos mans te dink en te doen. Die moderne vrou voel sy is geregtig op haar eie tyd met ontvlugting soos romantiese fiksie wat haar emosioneel versorg. Want hoewel die kontemporêre vrou in teorie meer voordele het as haar susters van lank gelede, is sy steeds hoofsaaklik verantwoordelik vir die hele gesin se emosionele versorging terwyl sy op haar eie reserwes aangewese is vir haar eie versorging,” skryf sy.

Maar wat sê ons eie vroueskrywers? Het hulle hoofkarakters deur die jare verander? En watter rol speel dit in hul lesers se lewe?  

KOOP HIER | BUY HERE
In haar grootwordjare in die laat tagtigs dra vroue skreeuhelder neonkleure, skouerkussings en groot hare. Maar nie háár aanneemma nie en ook nie Kaila sélf nie. Sy skáám haar! 
Haar ma is kerklik en koeklik en oorgewig en nie regtig lief vir haar nie.
 
Kaila word bespot en leer verwerping ken op vele vlakke.
 
Daar is ’n gevaarlike, verbode aantrekkingskrag tussen haar en haar Wiskunde-onderwyser. Sal hy die liefde van haar lewe wees?
   
Ná ’n motorongeluk wat ernstige letsels laat, verdwyn Kaila se ma spoorloos. Die onsekerheid en verlange spook lank daarna nog by haar.
 
As enkelouer stort sy jare later al haar liefde uit op haar seun, Sebastian. As hy tog net nie bevriend was met Bertina, die wildewragtige dogter van Max Viljoen, nie! Toe Bertina swanger raak, staan Kaila se seun se toekomsdrome gevaar om verpletter te word. 
Wat gemaak met die swangerskap wat soveel mense se lewe in skerwe laat spat? Max is vasbeslote dat sy dogter nie alleen met die baba in die arms gaan bly staan nie terwyl Kaila haar seun wil beskerm. Eintlik het Kaila en Max mekaar nodig, maar Kaila se hart breek wanneer sy die pyn in haar jong seun se oë sien.
 
En Kaila weet, sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees.  

Kristel Loots se eerste tydskrifkortverhale het in 1991 verskyn, en haar eerste liefdesroman in 1998. Meer as vyftig boeke later is sy beslis in ’n posisie om te praat oor hoe lesers vrouefiksie ervaar, en hoe die karakters in vrouefiksie deur die jare verander het.

“In die boeke wat ek vir LAPA skryf is alle vrouehoofkarakters nie meer noodwendig jonk en blond met albasterblou oë nie. Of rooikop-rissiepitte met wilgerlatlyfies nie. Hulle het geleidelik saam met my ouer (en vetter) en miskien bietjie wyser geword. Miskien selfs minder bitterbek en meer gebalanseerd. Dis bevrydend, vir skrywer sowel as leser. En meer geloofwaardig.”

Kristel sê haar hoofkarakters klink ook nie meer dieselfde as toe sy begin skryf het nie. “Destyds se ‘vervlaks het ‘dêmmit’ geword, en soms selfs ‘my f*k, Marelize’.” Maar binne perke, natuurlik. “Die hoofkarakter moet steeds ’n mate van onskuld en reinheid behou sodat sy simpatie ontlok en geliefd sal wees.”

KOOP HIER | BUY HERE
’n Storie van begin, weer begin en óórbegin ... Carla Kasselman se lewe val uit mekaar nadat haar man reg in eie hande neem, ’n onnoembare daad pleeg en die skuld op haar pak. Hy neem alles van haar af weg, eers haar babaseuntjie, en daarna pers hy haar af om hul blonde krulkopdogtertjie af te teken. Lewensmoeg en sonder hoop vlug sy na Sannasklip, ’n eenvoudige Weskusdorpie waar die eksentrieke tante Doreen haar op haar voete help. Die lewe raak weer draaglik, en aangenaam voorspelbaar, totdat ’n weerbarstige grootwildjagter se Landie sonder brandstof voor haar voordeur gaan staan. Carla ontdek dat die lewe bestaan uit probeer en wéér probeer, en dat die liefde nie wag op ’n uitnodiging nie, maar hom ongenooid tuis maak wanneer hy so voel. Meer as twintig jaar later sien sy weer haar dogter, maar Mignon is gebroke, verslae en sonder ’n wil om voort te gaan. Carla bring haar saam Sannasklip toe, maar sal haar verhouding, en die dorp se kalm ekwilibrium Mignon se donkerte kan absorbeer? Hoe is dit dan dat sy nie die bedorwe, depressiewe entjie mens wat net soos sy lyk, herken nie? Skuldgevoelens en verwyte verteer ma en dogter en dreig om hulle te verswelg. Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of dalk binne Sannasklip se vuurtoring waar die aantreklike besigheidsman, Bernard Bartman, besig is om ’n restaurantkoninkryk te vestig? Mignon ontdek dat sy meer is as die lappop wat haar pa geskep het en dat sy in staat is om lief te hê en liefgehê te word. Vergifnis word onvermydelik en die verlede se donker geheime verloor hul krag.

Volgens Kristel word die verskuiwing in grense bepaal deur die gees van die tyd, ’n veranderde samelewing, en natuurlik deur wat die uitgewer die skrywer toelaat. Maar die skrywer moet ook gemaklik wees met wat sy skryf. “As die skrywer ongemaklik is met wat ’n karakter doen of sê, sal die leser heel moontlik ook so voel.”

Watter soort vroue wil lesers hê? “Die idee is om ‘kick ass’-alfavroue tussen die blaaie van die boek te ontmoet. Hulle is nie noodwendig die swanger en kaalvoet in die kombuis-klone van die verlede nie, hulle vlieg vliegtuie, dien op direksies van maatskappye en is soms baas, eerder as klaas. Man-soek is nie prioriteit nommer een nie en hulle vat nie kaf van kabouters nie.” Maar almal het een of ander kwessie wat pla. “Anders is daar nie ’n storie nie.”

Daar is volgens Kristel ‘n goeie rede hoekom romantiese fiksie altyd gewild sal bly, ongeag die  opbloei van feminisme en sterk vroue wat nie op die rak sit en wag om gered te word nie. “Homo sapiens bewandel sedert Noag se dae al om die aarde in pare. Die behoefte, intense hunkering en selfs onbewustelike soeke na ’n maat is altyd daar. Begeerte, passie en ekstase is nodig, maar daar is ook plek vir wedersydse waardering en koestering.” Sy voel ook dis belangrik dat die misterie en die fantasie van die liefde moet bly.

KOOP HIER | BUY HERE
Sal liefde die sandkasteel van illusies en ontnugtering waarin Daniella haar bevind, wegwaai in die wind? En is vergifnis moontlik? Daniella het haar man verneuk en hy het van haar geskei, maar nou wil hy hul huwelik weer herstel. Sy gaan besoek ’n ou kasteel in Europa. Haar eksman betaal vir die duur wegbreek, sodat sy kan gaan dink en besluit of sy na hom toe terug wil gaan. Sy aanvaar die sprokiesvakansie omdat sy nog altyd ou kastele wou besoek en omdat sy ’n baie romantiese hart het. Sy besluit egter om eerder in ‘n winterslaap daar in die sneeuomgewing te gaan, en eers oor Herman se versoek te besluit wanneer sy weer terug in Suid-Afrika is. Maar sy word telkens gekonfronteer deur haar verlede se geraamtes, veral toe sy Remi ontmoet en op hom verlief raak terwyl hulle die kasteel en al dié se geheime ontdek en begin ontrafel. Sy glo sy verdien nie meer liefde nie. Toe klink dit ook of Remi getroud is en sy besef hy is taboe vir haar. Sy hoor later hy is tog ook geskei, en hoewel sy haar wil oorgee aan die liefde wat groter tussen hulle groei, is sy bang om hom te vertel van die rede vir haar egskeiding. Sy vrou het hom immers ook bedrieg met ’n ander man. Hy sal haar tog nie kan oorsien weens dieselfde oortreding nie.

Frenette van Wyk, wat al vyf Romanzas en drie SuperRomanzas op haar kerfstok het, glo vrouefiksie groei in gewildheid omdat dit in die behoeftes van die hedendaagse vrou voorsien én haar belange op die hart dra. “Dit bied noodsaaklike ontvlugting. ’n Goeie boek bied ’n maklike, vinnige en doeltreffende manier om vir ‘n rukkie te ontsnap van ’n harde, gejaagde, ongelukkige  of vervelige alledaagse realiteit.” ’n Boek kan ’n leser ook help om op haar eie vervulling en voltooiing te vind. “Moderne vrouefiksie-heldinne is mense in eie reg, ongeag of sy onskuldig of deurwinter is wat die liefde en lewe betref. Haar eerste prioriteit is haar eie droom waarvoor sy veg. Sy maak haar eie plan, volg haar eie kop, loop haar eie pad om haar droom te realiseer.” Hoe sien die lesers haar? “Vir hulle is sy ’n ikoon, ’n rolmodel wat die leser aanmoedig  om haar eie drome te droom, in haar vermoëns te glo en die selfvertroue te vind om dit uit te voer. Sy moenie toelaat dat hindernisse haar onderkry nie. Sy kan haarself laat geld en haar eie persoonlikheid uitleef.”

Sommige hoofkarakters moet hul eie emosionele pyn verwerk (oor verskillende kwessies, byvoorbeeld ‘n liefdesteleurstelling, haar voorkoms, molestering of mishandeling). “Daar is vandag meer vryheid en vrymoedigheid om te skryf en te lees oor temas wat in vorige dekades taboe was om in die openbaar te bespreek.” Frenette glo hierdie kennis en insig bemagtig lesers. “Die leser kry deur die heldin met wie sy identifiseer die kans om haar eie probleme in die oë te kyk en daarmee af te reken, uitdagings te aanvaar en te bowe te kom.”   

KOOP HIER | BUY HERE
Twee ontnugterde vroue wil hul mans skei. Wanda het genoeg van Sephus se streke en die beheer wat hy oor haar het. Claire wil ontsnap uit haar huwelik met Chris - ñ alkolis.

Frenette meen hedendaagse vrouefiksie-hoofkarakters het ’n dubbele uitdaging. “Behalwe vir haar droom wat sy wil realiseer, of emosionele pyn waarvoor sy genesing soek, moet sy ook nog veg vir haar held se liefde. Maar anders as vroeër jare, is sy nie meer ’n hulpelose of magtelose slagoffer uitgelewer aan die lewe en afhanklik van ’n held wat haar moet red nie. Trouens, die held staan dikwels in die pad van haar drome, maar sy stel haarself steeds oop en sien kans vir die uitdaging. Sodoende inspireer sy lesers om ook in liefde te glo, iets wat die romantiese vroulike geslag graag wil doen. Die heldin wek by lesers die begeerte om self liefde te wil ervaar ten spyte van hindernisse en hartseer, en sy help hulle waag om liefde ’n kans te gee en daarvoor te veg.”  

Die inspirasie om in die liefde te glo, skep ‘n goedvoel-ervaring. “Dit gee lesers hoop dat liefde werklik bestaan ten spyte van ’n siniese en liefdelose samelewing,  dat ’n gelukkige liefdesverhouding moontlik is en dat hulle self  in ’n liefdesverhouding vervulling en voltooiing kan vind.”

KOOP HIER | BUY HERE
Ná ’n bitter ongelukkige huwelik bevind Anina, ’n enkelma, haar op Fynbos tot sy weer ’n pos in die stad kry. Haar toekomsplanne sluit nie in dat sy haar jeugliefde weer hier raakloop nie.

Madelie Human, skrywer van sowat dertig romanses, onthou dat sy liefdesverhale begin lees het in ’n era waarin helde met feitlik enige gedrag weggekom het. “Die heldinne van destyds was sag, vroulik en maagdelik, maar die vrouebevrydingsbeweging het sake taamlik verander.” Madelie onthou dat daar in haar begindae as skrywer ’n duidelike opdrag aan skrywers was om donker temas in romanses te vermy. Dit het egter intussen verander. “LAPA het skrywers van vrouefiksie onlangs versoek om ernstiger temas by te werk en ons verhale te verdiep. Dis deur die meeste skrywers verwelkom, en ek self het in my jongste romanses temas soos plaasmoorde, renosterstropery, aanranding en kindermishandeling bygewerk. Dis die realiteit van ons tyd en durf nie geïgnoreer word nie.”

Sy het die laaste paar dekades ’n besliste verandering onder lesers van vrouefiksie bemerk. “Dis nie meer verveelde huisvroue, skoolmeisies en tannies in ouetehuise nie, maar ’n meer gesofistikeerde vrou wat weet presies wat sy tussen die bladsye van ’n boek soek. Die leser is toegeeflik teenoor die held en hy kan wegkom met baie dinge, maar sy stel haarself in die plek van die heldin en is byna net so krities oor haar gedrag as wat sy oor haar eie sou wees. Dit daag die skrywer uit om helde en heldinne te skep wat nie net samestellings van ’n klomp geite is nie, maar volronde, simpatieke en goed gemotiveerde karakters.”

KOOP HIER | BUY HERE

Kort ná ’n bekende skrywer te sterwe kom, sterf sy uitgewer ook. Willem, sy prokureur en die man wat hom tot met sy dood bygestaan het, het die pynlike geheim met hom saamgedra dat die uitgewer vir hom veel meer as ’n vriend was. Nie eens Willem se vrou Sanet of hulle kinders het geweet nie.

Maar die mense van Avondrust het geweet, en geswyg. En teen die tyd dat Sanet die waarheid hoor, is dit ’n saak wat nooit afgehandel sal kan word nie, in elk geval nie saam met Willem nie. Sy moet alleen deur hierdie ding kom, en die ander verantwoordelikhede wat Willem so geredelik op hom geneem het, is spoedig ook deel van haar probleme. Een hiervan is ’n dogtertjie met yslike bruin oë. Dis nou behalwe Sanet se ou probleem: kos. Heerlike, ongesonde kos, baie daarvan.

Sulke gatskop-heldinne, soos wat een van haar lesers onlangs die hoofkarakter in haar jongste boek beskryf het, is egter ’n groot uitdaging vir ’n romanse-skrywer. “Sy mag nie ’n koue vis of ’n bitterbek wees wat alle mans afkraak nie.  Ons moderne heldin hoef ook nie meer haar bra te verbrand om gelyk aan die man te probeer kom nie – inteendeel, sy koop ’n wonderbra en vier haar vroulikheid met oorgawe terwyl sy stof skop in die oë van die manne by die werk. Die voorkoms van die heldin hoef ook nie meer perfek en beeldskoon te wees nie, maar sy is  presies reg en pragtig vir haar held.”

“Die romansegenre is beslis bevrydend vir lesers wat in hierdie tyd van politieke onrus en onsekerhede oor die toekoms, honger is vir goedvoel-stories. Dit laat hulle besef dat hulle nie alleen deur die swaar van die lewe worstel nie, maar dat daar wel hoop is op liefde en geluk. Ek dink dat ons oor die afgelope dekades gevorder het van die sogenaamde hygroman na meer betekenisvolle verhoudingsromans.”

1 thought on “Fiksie vir die vrou – deur Ilse Salzwedel

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS