BOER IN BETON

Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer),en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.

Uit RETOER: Pretoria-Provence deur Marita van der Vyver

Kyk, ek is ’n meisie van die suburbs. Ek het in teerstrate gespeel en blik­kieskos geëet en smiddae gesnyde witbrood en Chappies-kougom in die kafee op die hoek gaan koop. Naweke was my klankbaan die gebrul van grassnyers en radio’s wat rugby uitsaai, afgewissel met die sedige geroep van kerkklokke op ’n Sondagoggend.

So was dit van my vroegste jare in ’n ou huis met ’n stoep en ’n heining naby die befaamde Voortrekkerweg in Boston tot my laerskooljare in Van der Graaff­straat, Welgemoed, waar ons ’n wilgerboom in die voortuin en ’n lukwartboom in die agterjaart gehad het, tot my tienertyd in ’n splinternuwe siersteenhuis met ’n plat dak – en ’n swembad! – in die oostelike voorstede van Pretoria.

Maar iewers diep in my binneste het daar blykbaar nog altyd ’n boer lê en loer – en vandat ek ’n paar jaar gelede na ’n ou plaashuis op die Franse plat­teland getrek het, bars hierdie boer heeltemal uit haar nate. Vir die eerste keer in my lewe besit ek ’n lappie grond waarop ek vrugtebome kan plant. Vir die eerste keer kan ek appelterte bak van appels wat ek self uit die boom voor die huis pluk.

Skielik verstaan ek presies wat Alice B. Toklas bedoel wanneer sy skryf: ‘The first gathering of salads, radishes and herbs made me feel like a mother about her baby – how could anything so beautiful be mine?’ Die vyekonfyt wat ek onlangs gekook het van ’n vrag vye uit die buurvrou se boord, het my sweerlik lekkerder laat kry as die boek wat ek onlangs geskryf het. Toegegee, ek het al meer boeke geskryf as konfyt gekook in my lewe. Maar daardie konfytvreugde is ’n suiwerder soort vreugde. Agter daardie vyf flesse glansende persswart soetigheid sweef die skimme van al my  konfytkokende voormoeders. Stoere bo­ervroue met raakvathande wat trots vir mekaar knik: Ja, hierdie nasaat van die suburbs het dit sowaar nog in haar bloed.

Dalk is dit ’n genetiese hunkering na grond waarin ek goed kan laat groei om my geliefdes te voer. Of dalk bloot kleintyd se plaaskuiers wat my vir altyd be­tower het. Soos vir alle Afrikaanse stadskinders van my geslag, is daar verlore familieplase iewers in die prentjie. Die plase het verdwyn, hoofsaaklik weens die Depressie en wellustigheid (te min grond en te min geld vir hopeloos te veel

kinders) of weens droogtes of sprinkaanplae of wat ook al. Maar vir ons stads­kinders was hulle so gehul in legendes (en helaas so verlore) soos die antieke Atlantis. Gelukkig is daar darem nog plase oor waar ons kon gaan kuier het – en o, het ons nie gekuier nie!

 Op die plaas van my oom met die af-vingers naby Porterville het ons trekker gery en in die donker waenhuis gespeel en hanslammers met melk in bruin bierbottels gevoer. (My oom se verlore vingers, deur ’n monsteragtige land­bou-implement verslind, was een van die Atlantis-legendes waarmee ek groot­geword het.) Op ’n grootoom se Vrystaatse plaas het my lewenslange liefdes­verhouding met brood begin. Nie die massaproduk in plastieksakkies wat ek in ’n kafee in die suburbs kon gaan koop nie. Nee, dit was sulke onegalige hompe wat stomend warm uit die koolstoofoond gehaal is en met helder geel plaas­botter besmeer is en gulsig afgesluk is terwyl die geel van die botter nog so wegsmelt in die sponssagte wit binnekant.

Op oom Pietertjie se plaas in die distrik Darling het die plaaskinders my geleer om sleepvoet-kaalvoet oor ’n veld vol duwweltjies te loop – hoewel my hak­skene nooit so begeerlik skurf soos hulle s’n geword het nie. In daardie veld het ons ook koekemakrankas gesoek vir die oom se doepa. (Brandewyn met koekemakranka het nie as drank getel nie, dit was medisyne vir grootmense, so is ons geleer.)

Op al hierdie plase het die klaende klank van ’n windpomp in ’n dor landskap deel van die klankbaan van my kleintydgeword. Soos ook die dubbele klap-klap van ’n sifdeur wat vlieë uit die kombuis moes hou. Wanneer ek vandag aan my kinderdae dink, hoor ek windpompe en sifdeure saam met grassnyers en kerk­klokke. Ek sien ’n klomp Chappies op ’n kafeetoonbank lê, toegedraai in vrolike rooi-blou-geel papiertjies met raaisels aan die binnekant, maar ek sien ook Darling se koekemakrankas wat soos seeperdjies in ’n bottel brandewyn dryf. G’n wonder die lank onderdrukte boer in my beur deesdae boontoe nie. G’n wonder die raakvat-oumas hits my gedurig aan nie. As ek nie ’n stokkie voor hierdie spulletjie steek nie, kry ek binnekort ’n paar hoenders om op die werf te kom skrop.

Koop die boek hier:

Sagteband: https://lapa.co.za/retoer-pretoria-provence

E-boek: https://lapa.co.za/retoer-pretoria-provence-eboek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS